Net voor ons met Afleer 1 begin
Kom, laat ons van harte dink
Psalm 1, ’n ou greep, en die dimensie van diepte
Lees eers dit
Psalm 1
Gelukkig is die wat nie oppervlakkig is nie, maar diepte het.
Voordat ons met ons eerste groot afleersessie begin, wil ek jou vra om eers Psalm 1 deur te lees.
Dit is nie ’n moeilike psalm nie. Lees dit rustig deur en vra jouself af: Waar lê die eintlike klem in hierdie psalm? Wat wil die psalm vir ons sê?
Hou hierdie vrae in gedagte, want ons gaan later in ons gesprek weer na Psalm 1 terugkeer.
Psalm 1
1Dit gaan goed met die mens
wat nie die raad van goddeloses volg nie,
nie met sondaars omgaan
en met ligsinniges saamspan nie,
2maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind,
dit dag en nag oordink.
3Hy is soos ’n boom wat by waterstrome geplant is,
wat op die regte tyd vrugte dra
en waarvan die blare nie verdroog nie.
Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak.
4So is die goddeloses nie.
Hulle is soos kaf wat deur die wind uitmekaar gewaai word.
5Daarom sal goddeloses hulle nie kan handhaaf wanneer die Here oor hulle oordeel nie
en sondaars nie ’n plek hê in die vergadering van regverdiges nie.
6Waarlik, die Here lei die regverdiges op hulle pad,
maar die pad van die goddeloses lei tot ondergang.
Die poort
Psalm 1 as inleiding tot die Psalmboek
Psalm 1 dien as inleiding tot die hele Psalmboek. Dit is interessant dat Handelinge 13:33 in sommige ou teksgetuies na Psalm 2 as die eerste psalm verwys.
Psalm 1 is waarskynlik doelbewus aan die begin van die Psalmboek geplaas omdat dit twee groepe mense beskryf wat telkens in die Psalms ter sprake kom: die regverdiges en die goddeloses.
Die Hebreeuse woord vir regverdige kom, in verskillende vorme, ongeveer 140 keer in die 150 psalms voor, terwyl die woord vir goddelose ongeveer 90 keer voorkom.
Wysheid
Psalm 1 as wysheidspsalm
Psalm 1 is ook ’n wysheidspsalm wat die vreugde van die wet van die Here beklemtoon. Nog ’n bekende voorbeeld van ’n psalm waarin die wet sentraal staan, is Psalm 119.
Volgens Psalm 1 lê die grondslag van ware geluk daarin dat ’n mens jou lewe volgens die wil van die Here inrig. Dit is ook ’n kenmerk van ware wysheid.
Hier moet ons egter iets belangriks onthou: Wysheid is nie bloot kennis of intelligensie nie, maar ’n lewensoriëntasie. Dit gaan oor die manier waarop ’n mens jou lewe inrig en die keuses wat jy maak.
In die Ou Testament word wysheid ten nouste verbind met ontsag vir die Here. Psalm 111:10 stel dit duidelik: Die vrees van die Here is die beginsel van wysheid.
Volgens Psalm 1 beteken geluk dus nie bloot dat ’n mens verkeerde dinge vermy nie. Dit gaan ook, en veral, daaroor dat jy jou verdiep in die Torah, die onderrig of voorskrifte van God, en jou lewe daarvolgens inrig.
Ware geluk lê dus nie net in wat jy nalaat om te doen nie, maar ook in die rigting waarin jy jou lewe doelbewus stuur.
Twee paaie
Die kern van Psalm 1
Die Hebreeuse woord Torah beteken nie bloot ‘wet’ in die moderne juridiese sin nie. Dit kan ook onderrig, leiding of instruksie beteken. Hierdie breër betekenis is besonder belangrik vir ons tema van die Bybel as kompas.
Die kontras tussen die regverdiges en die goddeloses gaan nie bloot oor goeie en slegte mense nie, maar oor twee verskillende lewensoriëntasies. Die een word gevorm deur die onderrig van die Here; die ander volg ’n ander koers.
Hy is soos ’n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie.
Psalm 1:3
So is die goddeloses nie. Hulle is soos kaf wat deur die wind uitmekaar gewaai word.
Psalm 1:4
Waarlik, die Here lei die regverdiges op hulle pad, maar die pad van die goddeloses lei tot ondergang.
Psalm 1:6
Afleer
Die ou, bekende greep
Ons eerste afleersessie, unlearning, lê nou voor.
Jy onthou mos die storie wat ek vertel het oor die manier waarop ek my muurbalraket vasgehou het?
Wat ek destyds nie klaar vertel het nie, is wat gebeur het nadat Alan Colburn, wat toe Suid-Afrika se nommereenmuurbalspeler was, vir my raad gegee het.
Hy het verduidelik dat die greep wat ek gebruik het, en wat ek sommer self aangeleer het toe ek begin muurbal speel het, verkeerd was. Dit sou my spel beperk en my verhinder om werklik verder te verbeter.
Ek het toe teruggegaan baan toe en hou ná hou met die nuwe greep probeer slaan. Dit was die regte greep, of kom ons sê liewer: die beter greep wat hy my gewys het.
Maar hierdie storie het ongelukkig nie ’n besonder mooi einde nie.
Ek het net ’n rukkie probeer om die nuwe greep onder die knie te kry. Dit was egter moeilik, en ek het al hoe meer gefrustreerd geraak. Boonop was ek nie só ernstig daaroor om ’n veel beter muurbalspeler te word nie. Ek het gevoel dat ek goed genoeg speel.
En toe? Toe gaan ek maar weer terug na my ou, bekende greep.
Die gevolg was dat ek nooit werklik my volle potensiaal as muurbalspeler kon bereik nie.
As ek vandag daaraan terugdink, wonder ek soms hoeveel ek nie dalk misgeloop het nie. As ek maar net bereid was om vas te byt en daardie ou, verkeerde greep af te leer!
En dit bring ons by die punt waar ons nou met ons Bybellees is.
Jy het waarskynlik ook oor die jare bepaalde maniere aangeleer waarop jy die Bybel lees en verstaan. Sommige van hierdie gewoontes kan jou dalk beperk, net soos my verkeerde greep my muurbalspel beperk het.
In die volgende twee afleersessies gaan ons na ’n paar van hierdie aangeleerde gewoontes en opvattings kyk. Ek wil jou uitnooi om eerlik daaroor na te dink en jouself af te vra: Is daar dalk iets waarvan ek moet afskeid neem?
Moenie dieselfde fout maak as wat ek met my muurbalspel gemaak het nie. Moenie bloot terugkeer na die ou, bekende greep omdat dit gemakliker voel nie. Probeer eerder om die ou greep te laat vaar en ’n nuwe, beter manier van Bybellees aan te leer.
Dom godsdiens
Dink!
Maar moenie nou dink dat ek enige illusies koester oor hoe moeilik dit kan wees om ou gewoontes af te leer nie.
Ek het die afgelope twee jaar die voorreg gehad om ook met eerstejaarstudente in die teologie oor hierdie aspek van Bybellees te gesels.
Ek het daar gesien hoe studente met bepaalde leesgewoontes en opvattings aankom wat hulle oor die jare elders aangeleer het. Sommige van hierdie gewoontes is nie noodwendig goed nie. Wanneer hulle dan hoor dat hulle dalk hulle manier van Bybellees sal moet heroorweeg, kan hulle nogal geïrriteerd raak.
Ek dink een van die redes hiervoor is dat daar in ons tyd ’n sterk klem val op wat ek ervaringsgodsdiens wil noem. Dit is amper asof mense ophou dink wanneer dit by godsdiens kom. Ek noem dit sommer dom godsdiens.
Natuurlik gaan godsdiens oor baie meer as net die mens se verstand. Geloof het immers ook met ons emosies, ervarings en hele menswees te doen. Ek gaan netnou meer daaroor sê.
Maar eers wil ek vir jou ’n aanhaling uit Winnie-the-Pooh lees wat, na my mening, iets van die gees van ons tyd besonder raak saamvat.
Moenie tou opgooi nie
’n Beertjie met ’n klein verstandjie
Wanneer ek hierdie reeks aanbied, kom ek gewoonlik vooraf met die deelnemers ooreen dat hulle hul daartoe verbind om nie tydens een van die twee afleersessies tou op te gooi nie.
Dit is immers nie altyd maklik om te erken dat ’n mens dalk sekere dinge anders moet begin verstaan of oor bepaalde sake anders moet begin dink nie.
Natuurlik geld dit nie vir almal nie. Sommige mense sê: “Maar ek sien dit lankal so!” My ervaring is egter dat baie mense die Bybel op ’n taamlik naïewe manier lees. Wanneer hulle dan met ander moontlikhede van verstaan gekonfronteer word, kan dit nogal ongemaklik wees.
En dit bring my by hierdie Afrikaanse vertaling van ’n opmerking uit Winnie-the-Pooh:
“Ek is ’n beertjie met ’n klein verstandjie, en lang en baie woorde maak my moeg.”
Winnie-the-Pooh
Nou moet ek erken dat ek self ook nie van lang preke en toesprake hou wat ’n mens later moeg maak nie! Maar dit is nie waaroor dit hier gaan nie.
Hier gaan dit oor die uitdaging om jou verstand doelbewus en krities te gebruik, om bereid te wees om nuut te dink en om gaandeweg tot groter insig in die lees en verstaan van die Bybel te kom.
Plat en dun gesprei
Pannekoekmense
Die sielkundige en rubriekskrywer in die koerant, Wilhelm Jordaan, het dit op ’n ander manier gesê.
“Die omvang van afrigting vir prestasie op skool kweek oplaas pannekoekmense, plat en dun gesprei sonder die soort diepte wat nodig is vir die werklik kritiese beoordeling van denkgoedere, ingesluit jou eie.”
Wilhelm Jordaan
Paul Tillich
Die dimensie van diepte
In ’n lang en indringende artikel stel die teoloog Paul Tillich ’n belangrike vraag: “How did the dimension of depth become lost?” (Hoe het ons die dimensie van diepte verloor?)
Paul Tillich, “The Lost Dimension of Religion”, The Saturday Evening Post, 1958
Jy sal agterkom dat die verskillende aanhalings wat ek tot dusver gebruik het, eintlik op dieselfde gedagte neerkom as wat ons in Psalm 1 aantref.
Psalm 1 beskryf die gelukkige mens as iemand wat hom of haar verdiep in die wil van die Here en dit dag en nag oordink. Só ’n mens is soos ’n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verwelk nie.
Dit is ’n mens wie se lewe diepte het.
Die aanhalings wat ons tot dusver bespreek het, is dus eintlik eietydse maniere om iets te verwoord van wat Psalm 1 reeds vir ons sê.
Daarom kan ons Psalm 1 beskou as ’n soort opdrag of rigtingwyser vir hierdie hele reeks. Ons is op soek na diepte.
Wanneer ons dus sê dat ons bepaalde dinge moet afleer, is dit nie bloot omdat ons ou opvattings wil bevraagteken of bestaande gewoontes wil verander nie.
Die onderliggende motivering is veel belangriker: Ons wil leer om die Bybel só te lees dat dit groter diepte aan ons geloof, ons denke en ons lewe gee.
Luther en Calvyn
Kop en hart
Dit is duidelik. Ons gaan ons verstand gebruik. Ons gaan nie tevrede wees met ’n oppervlakkige benadering tot die Bybel nie.
Maar ek wil tog seker maak dat jy hierdie klem op die gebruik van jou verstand nie verkeerd verstaan nie. Ons moet nie dink dat verantwoordelike Bybellees bloot ’n akademiese oefening of ’n saak van rasionele denke is nie.
Om dit te verduidelik, wil ek twee beelde uit die geskiedenis van die kerk gebruik. Dit hou verband met twee groot figure in die teologie: Martin Luther en Johannes Calvyn.
Albei het simbole gebruik waarmee hulle iets van hulle verstaan van die evangelie en die Christelike geloof uitgedruk het.
Martin Luther se bekende simbool, die Lutherroos, bevat onder andere ’n hart met ’n kruis daarin. Johannes Calvyn se bekende embleem beeld weer ’n hand uit wat ’n hart aanbied.
Dit is nogal betekenisvol dat hierdie twee teoloë, wat in hulle tyd ingrypende veranderinge in die kerk se denke en verstaan van die evangelie teweeggebring het, albei die hart as simbool gebruik het.
Daarmee herinner hulle ons daaraan dat geloof nie bloot ’n saak van die verstand is nie. Dit raak die hele mens: ons denke, ons oortuigings, ons emosies en die manier waarop ons leef.
En dit bring ons terug by die benadering wat ons in hierdie reeks wil volg.
Ons moet ons kop gebruik, maar ons moet dit van harte doen.
Albei is ewe belangrik. Ons wil met ons verstand dieper leer dink, maar terselfdertyd met ons hele hart betrokke wees by dit wat ons lees, glo en uitleef.
Kom, laat ons van harte dink!
James Kirkpatrick
Die kerk van vandag kan doen met die insig van 1517.
Die reeks
Op pad na helderheid
- 1Deel 1 · Die Bybel, ’n kompas in ’n ingewikkelde wêreldWaarom leer ons om die Bybel te lees?
- 2Deel 2 · Ses lesse in kompasleesDie groter prentjie, en wat op die pad voorlê.
- 3Deel 3 · Kom, laat ons van harte dinkTussenstuk: net voor ons met Afleer 1 begin. Jy is hier.
- 4Volgende: Deel 4 · Afleer 1 · Wat die Bybel nie is nieDie eerste afleersessie: die vinger, en die maan waarna dit wys.
- 5Deel 5 · Afleer 2 · God se Woord, nie God se woorde nieDrie tradisies en drie Bybels, drie flaters, en teenstrydighede.
- 6Deel 6 · Aanleer 1a · Die driepuntgreepDie teks, die geskiedenis en die leser, en verteltekste.
- 7Deel 7 · Aanleer 1b · Stories met ’n bedoelingGelykenisse, Jona, en Noag en die ark.
- 8Deel 8 · Aanleer 2 · Poësie en nog watPsalms, Jesaja 35, geslagsregisters en die profete.
Neem dit saam
Laai die boekie af om op jou foon te lees of om uit te deel. Die drukweergawe pas op A4 en vou in die middel tot ’n A5-boekie.