Aanleer 1b
Stories met ’n bedoeling
Ons lees ’n paar verteltekste as stories: twee gelykenisse van Jesus, die verhaal van Jona, en Noag en die ark. Fokus op die teks, en pas dit toe op jou lewe.
Voorbeelde
Die prentjie op die boks
Kom ons kyk weer na die groot prentjie op die legkaart se boks.
Jy onthou dat ons besig is om ’n manier aan te leer om die Bybel te lees. Daarvoor gebruik ons ’n driepuntplan.
Die eerste punt is dat die Bybel uit tekste bestaan. Ons het ook gesien dat nie alle tekste dieselfde is nie. Daarom het ons begin by ’n groep tekste wat ons verteltekste noem.
Ons gaan nou na ’n paar voorbeelde van verteltekste kyk en probeer verstaan hoe hulle werk.
- Die gelykenis van die verlore seun
- Die gelykenis van die ryk man en Lasarus
- Die storie van Jona
- Die storie van Noag en die ark
Die lysie voorbeelde kan dalk hier en daar wenkbroue laat lig. Dit is belangrik om te onthou dat Bybelwetenskaplikes en teoloë nie altyd oor alles saamstem nie. Nie almal sal byvoorbeeld saamstem dat die verhale van Jona en Noag as verteltekste gelees moet word nie.
Ons is egter oortuig dat al hierdie voorbeelde tot die kategorie van verteltekste behoort. Dit is tekste waarin verhale gebruik word om betekenis oor te dra – wat ons in Engels storytelling noem.
J. A. Bengel · 18de eeu
Twee kante van een muntstuk
Noudat ons gaan kyk hoe om Bybeltekste noukeurig te lees, wil ek graag ’n bekende aanhaling met julle deel.
Te totum applica ad textum; rem totam applica ad te.
Toegeskryf aan J. A. Bengel
“Fokus op die teks en pas dit toe op jou lewe.” Hiermee beskryf hy eintlik twee kante van dieselfde muntstuk.
Ons kan nie bloot uit akademiese belangstelling ’n teks ontleed en dit dan daar laat nie. Wat ons in die teks ontdek, moet ook betekenis hê vir ons lewe.
Die meeste van ons lees immers nie die Bybel uit akademiese belangstelling nie. Ons lees dit omdat ons wil weet: Wat beteken dit vir ons lewe?
Maar die ander kant is net so belangrik. As ons wil verstaan wat ’n teks vir ons lewe beteken, moet ons eers goed luister na wat die teks self sê. Ons kan nie slordig daarmee omgaan en dit laat beteken net wat ons wil nie.
Lees die teks noukeurig en vra dan wat dit vir jou lewe beteken.
Ons lees ’n gelykenis
Stories met ’n bedoeling
Die eerste groep verteltekste waarna ons gaan kyk, is die gelykenisse van Jesus.
’n Boek wat my baie gehelp het om die gelykenisse beter te verstaan, is Stories with Intent. Die subtitel is A Comprehensive Guide to the Parables of Jesus. Wat ek veral waardevol vind, is dat die titel self vir ons iets belangriks oor gelykenisse leer.
Die titel bestaan uit twee belangrike dele. Die eerste is stories. Dit herinner ons dat gelykenisse verhale is wat Jesus vertel het. Dit is stories wat Hy gebruik het om iets te verduidelik. Dit hoef dus nie gebeure te wees wat werklik plaasgevind het nie.
Die tweede deel is with intent, wat beteken met ’n bedoeling. Dit is die belangrikste punt: Jesus het hierdie stories met ’n spesifieke doel vertel. Hy wou iets vir sy luisteraars leer.
Ons vertel natuurlik ook stories bloot vir die lekkerte daarvan. Dink maar aan mense wat om ’n kampvuur sit, stories vertel en saam lag. Maar Jesus se gelykenisse is anders. Hy het stories gebruik om ’n boodskap oor te dra.
Ons moet nie net verstaan wat in die storie gebeur nie, maar ook vra waarom Jesus dit vertel het en wat Hy daarmee wou sê.
Gelykenisse is oud
Jesus was nie die eerste nie
Jesus was natuurlik nie die eerste persoon wat stories vertel het nie. Dit was lank reeds ’n bekende manier om belangrike waarhede oor te dra.
Jesus was not the first person to tell parables, and despite his originality and creativity, the forms he used were not new. Parables of various types are known in virtually all cultures and appear in various kinds of literature. The oldest parable-like or parabolic material of which I am aware is from about the twenty-fourth century B.C., but older examples may exist.
Klyne Snodgrass, Stories with Intent
Jesus was nie die eerste wat gelykenisse vertel het nie. Gelykenisse kom in feitlik alle kulture voor; die oudstes wat Snodgrass ken, kom uit sowat die 24ste eeu voor Christus.
Ons moet onthou dat Jesus in ’n wêreld geleef het waarin die vertel van verhale ’n belangrike rol gespeel het. Dit was ook waar van Israel se geskiedenis. Die verhale van Israel is immers van geslag tot geslag oorgedra.
Mense kon reeds ongeveer 3000 jaar voor Christus skryf. Dink maar aan die vroeë skrifstelsels van Mesopotamië en Egipte. In Israel het skryfkuns veral gedurende die koningstyd, vanaf ongeveer 1000–900 voor Christus, begin ontwikkel. Aanvanklik was dit hoofsaaklik amptenare en skrywers aan die koninklike hof wat kon skryf.
Vir die meeste mense was die gesproke woord egter steeds die belangrikste manier om kennis, wysheid en geloof oor te dra. Vertellings het hierin ’n besondere rol gespeel.
Jesus het binne hierdie tradisie grootgeword. Hy was deel van ’n gemeenskap waarin mense hulle geloof, geskiedenis en lewenswysheid mondelings oorgedra het. Dit is dus nie vreemd dat Hy self ook gelykenisse gebruik het om mense te leer nie.
Hy het aangesluit by ’n manier van kommunikeer wat sy luisteraars goed geken het.
Hoe lees ’n mens ’n verhaal?
Eers die geheel, dan die besonderhede
Een van die belangrikste dinge wat ons oor die lees van verhale moet onthou, is dat ons altyd by die geheel begin en dan na die besonderhede kyk.
Probeer dus eers verstaan wat die hele verhaal wil sê voordat jy op die kleiner besonderhede fokus.
Dit maak die lees van die Bybel sommer baie makliker. Daar is dikwels klein besonderhede in ’n verhaal waarvan ons nie presies weet wat dit beteken nie. Maar dit hoef ons nie vas te haak nie.
As ons die geheel verstaan, kan ons gewoonlik die hoofgedagte raaksien, selfs al is daar hier en daar iets wat ons nie mooi begryp nie.
Kom ons kyk hoe dit werk aan die hand van die gelykenis van die verlore seun. Dit vorm deel van ’n groter geheel in Lukas 15. In hierdie hoofstuk kry ons drie gelykenisse wat almal oor verlorenheid handel: die verlore skaap, die verlore muntstuk en die verlore seun.
Lukas het waarskynlik hierdie drie gelykenisse doelbewus bymekaar geplaas. Deur dieselfde tema drie keer op verskillende maniere te laat terugkom, help hy ons om die boodskap beter te verstaan.
Dit is waarom ons eers na die groter geheel kyk voordat ons die gelykenis self van nader bekyk.
Lukas 15:1–3
Hy eet saam met sondaars
Die eerste paar verse van Lukas 15 is baie belangrik, want dit verduidelik waarom Jesus hierdie gelykenis vertel.
Die tollenaars en sondaars het gereeld na Jesus kom luister. Dit het die Fariseërs en skrifgeleerdes ontstel. Hulle het gemor:
Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle.
Lukas 15:2
Om in daardie wêreld saam met iemand te eet, was ’n teken van aanvaarding. En dit is juis waarmee die Fariseërs en skrifgeleerdes ’n probleem gehad het. Hulle kon nie verstaan waarom Jesus hierdie mense aanvaar nie.
Daarom vertel Jesus die gelykenis van die verlore seun.
Geloofstaal is soos-taal
God is soos ’n pa …
In die hart van hierdie verhaal lê ’n verrassende boodskap: God is soos ’n pa wat sy kinders met genade ontvang.
Selfs wanneer sy jongste seun alles verkeerd gedoen het, hardloop die pa hom tegemoet en verwelkom hom met oop arms. In daardie wêreld was dit iets ongehoords dat ’n pa so sou optree.
- Soos ’n pa wat hardloop
- Soos ’n pa wat innig jammer kry
- Soos ’n pa wat omhels
Hier sien ons iets wat dikwels in die Bybel gebeur: Jesus gebruik ’n beeld uit die alledaagse lewe om iets oor God te sê. Hy sê nie bloot hoe God is nie; Hy vertel ’n verhaal wat ons help om God anders te sien.
Die mense wat na Jesus geluister het, moes met hierdie beeld huis toe gegaan het: God is soos ’n pa wat sy verlore kind met oop arms verwelkom.
Dit is die verrassende en lewensveranderende boodskap van hierdie gelykenis.
Lukas 16
Die ryk man en Lasarus
Ons volg hier dieselfde benadering as by die gelykenis van die verlore seun. Hoewel daar baie betekenis in die kleiner besonderhede van die verhaal lê, probeer ons eers om die geheel te verstaan. Wat wil Jesus met hierdie verhaal sê?
In Lukas 16:1–9 vertel Jesus die gelykenis van die oneerlike bestuurder. Dit gaan oor mense en hulle verhouding met geld en besittings. Later, in verse 19–31, kry ons die verhaal van die ryk man en Lasarus. Ook hier speel geld en besittings ’n belangrike rol.
Tussen hierdie twee verhale lees ons in vers 14 iets wat ons help om die verband te verstaan:
Die Fariseërs was baie lief vir geld.
Lukas 16:14
Dit gee ons ’n belangrike leidraad oor waarom Jesus die gelykenis vertel. Hy wil sy luisteraars laat nadink oor hulle verhouding met geld en oor hoe hulle ander mense behandel.
Jesus doen dit deur twee mense teenoor mekaar te stel. Die een is ’n ryk man wat nie eens ’n naam kry nie. Hy word bloot as die ryk man beskryf. Die ander een is ’n arm man met ’n naam: Lasarus, wat beteken “God help”. Die kontras tussen hierdie twee mense staan sentraal in die verhaal.
Watter soort teks lees ons hier? Ons behandel hierdie verhaal as ’n gelykenis, ’n vertelteks wat Jesus gebruik om ’n bepaalde boodskap oor te dra.
Daar is egter mense wat hierdie gedeelte gebruik om te verduidelik hoe die lewe ná die dood lyk. Maar dit is nie hoe ons die teks hier verstaan nie. Die besonderhede oor die lewe ná die dood dien die verhaal se bedoeling en moet nie sonder meer as ’n letterlike beskrywing van die hiernamaals verstaan word nie.
Onthou jy die algemene fout waaroor ons aan die begin van hierdie reeks gepraat het? Mense lees figuurlike tekste asof dit letterlike beskrywings is. Ons moet die verhaal lees volgens die aard en bedoeling daarvan.
Is this a parable? Preachers and certain people throughout church history sometimes have asserted that this story is not a parable but depicts real people and the consequences of their lives. I am not aware of any modern scholar who would agree. Certainly Luke viewed this as a parable. It appears in a collection of parables, possibly stands chiastically parallel to the parable of the Rich Fool, and uses the exact same introductory words (anthrōpos tis) which Luke uses to introduce several other parables. This is without question a parable.
Klyne Snodgrass, Stories with Intent
Is dit ’n gelykenis? Sommige het beweer dit beskryf werklike mense, maar geen moderne kenner stem saam nie. Lukas plaas dit tussen gelykenisse en begin dit met dieselfde woorde (“’n sekere man”) as ander gelykenisse. Dit is sonder twyfel ’n gelykenis.
Selfsug teenoor omgee
Kan geld die belangrikste wees?
Dit is eintlik heel eenvoudig. Jesus praat met die Fariseërs, wat baie lief was vir geld. Hy wil hulle laat nadink oor ’n belangrike vraag: Kan geld die belangrikste ding in ’n mens se lewe wees?
Daarom vertel Hy ’n verhaal waarin twee mense skerp teenoor mekaar staan. Aan die een kant is die ryk man, wat net aan homself dink. Aan die ander kant is Lasarus, ’n arm man wat van ander se hulp afhanklik is. Sy naam beteken “God help”.
Die kern van die verhaal is dat Jesus ons uitdaag om anders te leef. Ons moet nie toelaat dat geld ons lewe beheers nie. Ons moet eerder in afhanklikheid van God leef en omgee vir mense wat ons hulp nodig het.
En dit bring ons terug by ons uitgangspunt: Ons lees die teks noukeurig en vra dan wat dit vir ons eie lewe beteken.
Dit laat my dink aan die liedjie People Help the People, wat Birdy in 2011 bekend gemaak het. Die boodskap is eenvoudig: Mense moet mekaar help. Wanneer iemand alleen of verlore voel, moet daar iemand wees wat ’n hand uitsteek.
People help the people.
Simon Aldred (Cherry Ghost); gesing deur Birdy, 2011
Ek dink Jesus sou van hierdie liedjie gehou het. Dit verwoord immers iets van wat Hy met die verhaal van die ryk man en Lasarus wou sê: Moenie so vasgevang raak in jou eie wêreld dat jy die mens wat jou nodig het, miskyk nie.
History or His story?
Jona: geskiedenis of storie?
Ons gaan die boek Jona lees as ’n soort gelykenis. Dit is ’n benadering waaroor daar al baie verskil is, maar ek dink jy sal sien waarom dit ’n oortuigende en betekenisvolle manier is om die boek te verstaan.
Om mee te begin, moet ons tussen twee dinge onderskei: die tyd waarin die verhaal afspeel en die tyd waarin dit geskryf is.
Die verhaal speel af in die agtste eeu voor Christus, maar baie Bybelwetenskaplikes meen dat die boek heelwat later geskryf is, waarskynlik gedurende die Persiese tydperk, moontlik tussen 500 en 300 v.C. Dit is ’n belangrike onderskeid, want dit help ons om die aard van die boek beter te verstaan.
Nog iets wat opval, is dat Jona anders is as die meeste ander profeteboeke. In boeke soos Jesaja, Jeremia en Amos lees ons hoofsaaklik wat die profete verkondig het. In Jona kry ons egter ’n verhaal oor ’n profeet. Daar is wel ’n kort profetiese uitspraak, maar die boek bestaan hoofsaaklik uit ’n vertelling.
Jona is in die eerste plek ’n verhaal wat ’n boodskap wil oordra. Daarom gaan ons dit as ’n vertelteks benader en vra wat die skrywer deur hierdie verhaal vir sy lesers wou sê.
Histories?
Spore van ’n kunstige verteller
Wanneer ons die boek Jona lees, kom ons agter dat dit baie ooreenkomste met Jesus se gelykenisse het.
Soos by die gelykenisse, lê die betekenis veral in die verhaal as geheel. Daar is ook heelwat aanduidings dat ons met die werk van ’n kreatiewe skrywer te doen het.
Dink byvoorbeeld aan die groot vis, wat so ’n belangrike rol in die verhaal speel. Dit is deel van ’n patroon waarin alles buitengewoon groot is.
Daar is ook die beskrywing van Nineve as ’n geweldige groot stad, wat drie dae neem om deur te stap. Uit die geskiedenis weet ons dat Nineve nie so groot was soos wat hierdie beskrywing suggereer nie.
Dan lees ons in Jona 4:11 van meer as 120 000 mense wat nie tussen links en regs kan onderskei nie. Selfs die diere word by die stad se vas betrek!
Dit alles laat ons vermoed dat die skrywer nie bloot historiese gebeure probeer beskryf nie, maar doelbewus oordrywing gebruik om sy boodskap oor te dra.
Daarby is die historiese besonderhede dikwels vaag. Die skrywer gebruik ook verskillende literêre tegnieke, soos ironie, parodie, hiperbool (oordrywing) en klankspel.
Dit alles versterk die indruk dat Jona ’n kunstig vertelde verhaal is waarin die skrywer sy lesers deur middel van ’n storie iets belangriks wil leer.
Wat is Jona?
Watter soort teks is Jona dan?
Bybelkenners gebruik verskillende name om die boek te beskryf. Ons kan dit ’n gelykenis, ’n voorbeeldvertelling of ’n didaktiese novelle noem. Elke naam beklemtoon iets anders.
1 · ’n Gelykenis (masjal)
’n Gelykenis is ’n storie wat ’n belangrike boodskap oor God of die lewe oordra. Jona pas hierby omdat die verhaal ons iets oor God leer. God gee om vir alle mense, selfs vir die mense van Nineve, van wie Jona nie gehou het nie.
2 · ’n Voorbeeldvertelling
’n Voorbeeldvertelling is ’n storie waarin ons uit mense se gedrag leer. Jona pas hierby omdat ons uit sy optrede leer. Hy wil nie doen wat God vra nie en is kwaad wanneer God die mense van Nineve vergewe. Sy gedrag wys vir ons hoe selfsugtig en ongehoorsaam mense soms kan wees.
3 · ’n Didaktiese novelle
Dit klink na ’n moeilike woord, maar dit beteken eenvoudig ’n kort verhaal wat geskryf is om mense iets te leer. Jona pas hierby omdat die skrywer die verhaal op ’n interessante manier vertel. Hy gebruik ’n groot vis, ’n groot stad, humor en oordrywing om die leser te laat nadink.
- Die gelykenis beklemtoon wat ons oor God leer.
- Die voorbeeldvertelling beklemtoon wat ons uit Jona se gedrag leer.
- Die didaktiese novelle beklemtoon hoe die skrywer die verhaal gebruik om ons iets te leer.
Die belangrikste is dat ons die boodskap van die hele verhaal verstaan: God se liefde en genade is groter as wat Jona bereid was om te aanvaar.
Die groot prentjie
Alles in die Jona-storie is groot!
Ons gaan nie by al die klein besonderhede stilstaan nie. Kom ons kyk eerder na die groot prentjie.
Die sleutel lê in een woord wat telkens in die boek Jona voorkom: groot.
Kyk net hoe dikwels dit gebruik word. Nineve is ’n groot stad. Daar kom ’n groot storm op die see. Die matrose word baie bang. ’n Groot vis sluk Jona in. Jona is baie bly oor die plant wat vir hom skaduwee gee, maar verskriklik kwaad wanneer dit doodgaan.
Dit is asof die skrywer doelbewus alles groot maak om ons aandag op iets te vestig.
En uiteindelik ontdek ons wat dit is: God se genade is groter as Jona se woede en selfsug. Dit strek selfs tot mense vir wie Jona geen genade wou hê nie.
Jona 4:2
Kwaad omdat God genadig is
Jona 4:2 is een van die belangrikste verse om die hele verhaal te verstaan. Jona haal hier ’n bekende belydenis oor God uit Eksodus 34 aan:
Ek het geweet U is ’n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het.
Jona 4:2
Dit klink na ’n mooi geloofsbelydenis. Maar daar is iets ironies aan die woorde: Jona is kwaad omdat God genadig is!
In hoofstuk 4 sien ons hoe dit verder ontvou. Dan vra God vir hom: As jy so omgee vir ’n plant, waarom mag Ek My nie oor die mense van Nineve ontferm nie? Dit is die vraag waarmee die boek eindig.
Kan jy aanvaar dat God ook genadig is teenoor mense van wie jy nie hou nie? Of dink jy God se genade behoort net aan jou en jou mense?
Hier help die historiese agtergrond ons om die verhaal nog beter te verstaan. Baie Bybelwetenskaplikes meen dat Jona ná die Babiloniese ballingskap, waarskynlik gedurende die Persiese tydperk, geskryf is.
Dit was ’n tyd toe sommige Israeliete na hulle land teruggekeer het en daar groot spanning oor die identiteit van God se volk ontstaan het. Een van die belangrike vrae was: Wie behoort aan God se volk en wie nie? Wie is binne en wie is buite?
Teen hierdie agtergrond kry die boek Jona besondere betekenis. Dit daag die gedagte uit dat God se genade net vir een groep mense bedoel is.
Jona ken al die regte woorde om God te beskryf: genade, barmhartigheid, liefde en trou. Maar hy sukkel om te aanvaar dat hierdie woorde ook geld vir mense van wie hy nie hou nie.
En dit is die uitdaging wat die boek Jona aan sy lesers stel.
Jona 4
Die storie van die klein boompie en die wurm
Die verhaal van Jona is besonder goed geskryf. Dit eindig op ’n verrassende manier, met ’n plant, ’n wurm en ’n belangrike vraag van God.
Jona sit buite die stad Nineve. God laat ’n plant groei wat vir hom skaduwee gee en hom teen die warm son beskerm. Jona is baie bly daaroor.
Maar die volgende dag laat God ’n wurm kom wat die plant beskadig, sodat dit doodgaan. Jona verloor sy skaduwee en word woedend. Dan vra God vir hom:
“Het jy rede om kwaad te word oor die komkommerplant?”
Jona antwoord: “Ek het rede genoeg. Ek is besig om te sterf.” (Jona 4:9)
Die plant is meer as net ’n plant. Dit help ons om Jona se houding te verstaan. Jona is baie bly wanneer God iets goeds vir hom doen. Hy geniet die skaduwee wat die plant gee. Maar wanneer God genade aan die mense van Nineve bewys, is hy kwaad.
Die plant wys dus hoe selfsugtig Jona se denke geword het. Hy gee om vir iets wat sy eie lewe makliker maak, maar nie vir die mense van Nineve wat God wil spaar nie.
God gebruik die plant om Jona te laat nadink: As jy soveel omgee vir ’n plant wat jy nie eens self laat groei het nie, waarom mag Ek nie omgee vir ’n hele stad vol mense nie?
Hier lê die groot verskil tussen Jona en God. Jona dink aan homself en sy eie gemak, terwyl God met liefde en genade na ander mense kyk.
Die boek eindig sonder dat Jona op God se laaste vraag antwoord. Die vraag bly oop, sodat elke leser self daaroor kan nadink:
Is ons net bly oor God se genade wanneer dit ons bevoordeel, of kan ons ook bly wees wanneer God genadig is teenoor mense van wie ons nie hou nie?
Genesis 6–9
Noag: dit begin by God se hartseer
Ook by die verhaal van Noag volg ons dieselfde benadering: Ons kyk eers na die geheel en probeer verstaan wat die verhaal vir ons wil sê.
Die verhaal strek van Genesis 6 tot 9, maar ons begin by Genesis 6:5, waar ons die rede vir die verhaal kry.
Ons lees hier van God se diepe teleurstelling in die mens. Dit word veral duidelik in een van die hartseerste uitsprake in die Bybel, wanneer God sê:
Ek is bedroef daaroor dat Ek hulle gemaak het.
Genesis 6:7
Dit is die agtergrond waarteen die hele verhaal afspeel: God se hartseer oor die boosheid van die mense wat Hy geskep het.
Een of twee stories in Genesis 6–9?
“Hier is nie net een storie nie, maar twee!”
Ek het op ’n keer Genesis 6 tot 9 saam met ’n Bybelstudiegroep in ’n gemeente gelees. Een van die groeplede was ’n besonder skerpsinnige man. Hy was vroeër die redakteur van ’n wetenskaplike tydskrif en het ’n besondere vermoë gehad om fyn waar te neem.
Omdat ek glo dat ’n mens eers die geheel van ’n verhaal moet verstaan, het ons die vier hoofstukke van begin tot einde gelees. Ons was skaars aan die lees toe hierdie man opmerk: “Maar hier is iets snaaks. Dit lyk vir my of hier nie net een storie is nie, maar twee!”
Dit was vir my merkwaardig, want dit is presies wat baie Bybelwetenskaplikes ook sê. Hulle meen dat Genesis 6 tot 9 saamgestel is uit twee ouer vloedverhale wat mettertyd tot een verhaal verweef is.
Die twee verhale verskil nogal van mekaar. Die een is meer soos ’n gewone vertelling, terwyl die ander een baie meer aandag aan presiese besonderhede, getalle en voorskrifte gee.
| J | P | |
|---|---|---|
| Die diere | een paar van elke dier (6:19) | sewe pare van die rein diere (7:2) |
| Die vloed duur | 40 dae | 150 dae |
| Die water | reën | reën en fonteine |
| God se naam | Jahwe (HERE) | Elohim (God) |
Hoe verklaar ons hierdie verskille? Baie Bybelwetenskaplikes meen dat daar oor ’n lang tyd verskillende weergawes van die vloedverhaal bestaan het. Uiteindelik is twee van hierdie tradisies saamgevoeg om die verhaal te vorm wat ons vandag in Genesis 6 tot 9 lees.
Ons lees dus vandag een verhaal waarin ons nog die spore van twee ouer vertellings kan raaksien.
Die Bybelstorie: een van baie
Een van baie vloedverhale
Nog ’n belangrike ontdekking uit Bybelnavorsing is dat die vloedverhaal in Genesis nie die enigste of die oudste vloedverhaal is nie.
Daar is ook ander, ouer verhale, soos die Atrahasis-epos, die Gilgamesj-epos en die Sumeriese vloedverhaal.
Hierdie verhale het baie ooreenkomste met die verhaal van Noag. Daarom meen baie Bybelwetenskaplikes dat die skrywers van Genesis waarskynlik van hierdie ouer tradisies gebruik gemaak het.
Hulle het egter nie bloot die verhale oorgeneem nie. Hulle het dit op hulle eie manier verwerk om ’n ander boodskap oor God en die mens oor te dra.
Die belangrike vraag is dus nie net wat die Bybelse verhaal met die ouer verhale gemeen het nie, maar veral wat dit anders oor God wil sê.
Interpretasie
Storie, nie geskiedenis nie
Om op te som: net weer ons basiese uitgangspunt oor die interpretasie van hierdie storie.
Die sondvloedverhaal, die een van Noag en die ark, kom die meeste tot sy reg as dit as storie en nie as geskiedenis verstaan word nie.
Jy ken die onderskeid tussen storie en geskiedenis. Ons het hier storie en nie geskiedenis nie.
Daar is ’n interessante verhaal uit Suid-Afrika se geskiedenis oor biskop John Colenso, wat in die 19de eeu onder die Zoeloes in KwaZulu-Natal gewerk het.
Colenso het in die 1850’s en 1860’s aan ’n Zoeloe-vertaling van die Bybel gewerk en baie nou saam met Zoeloe-kategete en vertaalhelpers gewerk. Terwyl hulle Genesis 6–9 bespreek het, het een van sy helpers, gewoonlik geïdentifiseer as William Ngidi, hom gevra:
Is dit alles waar? Glo jy werklik dat al die diere, groot en klein, uit warm en koue lande, twee-twee na die ark gekom het? En dat Noag kos vir hulle almal bymekaar gemaak het?
William Ngidi aan Colenso
Dit wys dat vrae oor hoe ons die Bybel moet lees, glad nie nuut is nie.
Reeds in die 19de eeu moes Colenso nadink oor die vraag of ons die verhaal van Noag letterlik moet verstaan.
Skryf en teken jou gunsteling-Bybelstorie
Graadeentjies teken Noag
My vrou gee al jare lank vir graadeentjies skool. Een van die dinge wat sy gereeld met haar klas gedoen het, was om die kinders te vra om hulle gunsteling-Bybelverhaal te teken. Dan het sy die tekeninge huis toe gebring en kon ek ook daarna kyk.
Die verhaal van Noag was byna altyd onder die vyf gewildste verhale. Ek het oor die jare ’n paar van hierdie tekeninge gehou. Kom ons kyk daarna, want dit wys vir ons hoe die verhaal van Noag kinders se verbeelding aangryp.
Hierdie kind het duidelik die deel van die storie gelees wat sê daar’s twee van elke dier in die ark opgeneem, maar dis tog opvallend dat daar baie voëls is en hulle buite die ark rondvlieg.
Hierdie kind het duidelik ’n baie praktiese kop! Want dink net: As jy so lank op ’n boot moet bly, gaan iemand tog die wasgoed moet was! En waar hang jy dit dan op om droog te word?
Die kind het sommer self die oplossing gekry: ’n Wasgoedlyn met klere wat vrolik aan die ark hang! Want selfs op Noag se ark moet die wasgoed mos gedoen word!
Van al die sketse is hierdie een vir my nogal besonders. Kyk net hoe groot en opvallend hierdie kind die reënboog geteken het! Dit is duidelik dat die reënboog vir die kind ’n belangrike deel van die verhaal was.
En dit is nogal besonders, want in die verhaal van Noag speel die reënboog ’n baie belangrike rol. Dit is die teken van God se belofte en bring hoop ná die groot vloed.
Ons gaan later weer na hierdie teken van hoop terugkom.
’n Boodskap van hoop
H · O · O · P
Die verhaal van Noag begin op ’n donker noot. God is so teleurgesteld in die mens dat Hy bedroef is omdat Hy die mens gemaak het.
Maar dan ontmoet ons vir Noag. Te midde van al die boosheid is daar iemand wat God se guns geniet. God besluit om Noag, sy gesin en die diere deur die vloed te bewaar.
En hierin lê die hoop van die verhaal: God gee nie moed op met sy skepping nie. Deur Noag maak Hy ’n nuwe begin moontlik. Kom ons beweeg nou vinnig deur die verhaal, soos iemand wat ’n rivier oorsteek deur van klip tot klip te spring.
1 · ’n Nuwe begin is nodig
Ons begin waar die verhaal self begin: by God se teleurstelling in die mens.
As ons Genesis 6 binne die groter geheel van Genesis 1 tot 11 lees, word een ding duidelik: ’n Nuwe begin is nodig. En dit is die mens se eie optrede wat dit nodig maak.
2 · ’n Nuwe begin is moontlik!
Die volgende belangrike punt is dat ’n nuwe begin moontlik is, en dit is God wat dit moontlik maak.
Die verhaal beweeg na ’n hoopvolle einde. Die duif keer terug met ’n varsgeplukte blaar in sy bek, en later verskyn die reënboog aan die hemel. Albei is tekens van hoop. Die vloed is verby, en die lewe kan weer begin.
Die manier waarop die verhaal geskryf is, kan ons ook help om die tema van ’n nuwe begin raak te sien.
In die seshonderd-en-eerste jaar, in die eerste maand, op die eerste dag van die maand, het die water opgedroog.
Genesis 8:13
Let op hoe die datum beskryf word. Miskien is dit bloot ’n manier om die datum presies aan te dui. Maar dit is ook moontlik dat die herhaling van die woord “eerste” iets van ’n nuwe begin beklemtoon. Ná al die verwoesting is daar weer hoop vir die lewe op aarde.
3 · Leef met daadwerklike verwagting!
Ná die donker begin in Genesis 6 verander die verhaal geleidelik van toon. Daar kom weer hoop, en ons begin uitsien na wat voorlê.
Noag het toe nog sewe dae gewag en weer die duif uit die ark losgelaat. Teen die aand het die duif na hom toe teruggekom.
Genesis 8:10–11
Die verhaal beweeg dus van wanhoop na hoop. Die toekoms lyk nie meer so donker nie.
4 · Wees oop vir verrassings
In Genesis 8:11 is daar ’n klein besonderheid wat ons maklik miskyk. Wanneer die duif na Noag terugkeer, lees ons in die 1933-vertaling: “Nogal met ’n vars geplukte blaartjie in sy bek.” Die 2020-vertaling sê: “En kyk, met ’n vars geplukte blaartjie in sy bek.”
Dit is asof die skrywer wil sê: Kyk net! Daar is weer lewe! Ná al die verwoesting begin daar weer iets groei.
Die duif se terugkeer word so ’n teken van hoop: Die vloed is besig om verby te gaan, en ’n nuwe begin kom in sig.
Van vloed na reënboog
God sit sy boog neer
Wanneer Ek wolke oor die aarde laat saampak, en die reënboog verskyn in hulle, sal Ek dink aan my verbond met julle en al die wilde diere volgens hulle soorte. Daar sal nooit weer vloedwaters kom wat alle lewende wesens uitroei nie.
Genesis 9:14–15
In Genesis 9:8–17 lees ons van die reënboog wat God in die wolke plaas. Dit word die teken van sy verbond met Noag en alles wat lewe.
Daar is iets besonders aan die beeld van die reënboog. Die woord vir “boog” kan ook verwys na ’n wapen waarmee mense oorlog gemaak het – ’n pyl en boog.
Dit is dus moontlik om die reënboog te verstaan as God wat sy oorlogsboog neersit. Dit is asof Hy sê: Ek maak vrede. Ek sal nie weer die aarde deur ’n vloed vernietig nie.
Dink nou terug aan waar die verhaal begin het. In Genesis 6 lees ons van God se diepe teleurstelling in die mens. Maar aan die einde maak God ’n verbond met Noag en beloof Hy om die lewe op aarde te bewaar.
Wat ’n verrassende wending! Die verhaal begin met God se hartseer oor die mens, maar eindig met sy belofte van trou aan sy skepping.
En daarin lê die hoop van die Noagverhaal: Ons kan met hoop na die toekoms kyk, omdat God nie sy skepping prysgee nie.
Fokus op die teks. Dit het ons nou deeglik gedoen. Pas dit toe op jou lewe.
James Kirkpatrick, na J. A. Bengel
Wat beteken dit vir jou?
Die reeks
Op pad na helderheid
- 1Deel 1 · Die Bybel, ’n kompas in ’n ingewikkelde wêreldWaarom leer ons om die Bybel te lees?
- 2Deel 2 · Ses lesse in kompasleesDie groter prentjie, en wat op die pad voorlê.
- 3Deel 3 · Kom, laat ons van harte dinkTussenstuk: net voor ons met Afleer 1 begin.
- 4Deel 4 · Afleer 1 · Wat die Bybel nie is nieDie eerste afleersessie.
- 5Deel 5 · Afleer 2 · God se Woord, nie God se woorde nieDie tweede afleersessie.
- 6Deel 6 · Aanleer 1a · Die driepuntgreepDie teks, die geskiedenis en die leser, en verteltekste.
- 7Deel 7 · Aanleer 1b · Stories met ’n bedoelingGelykenisse, Jona, en Noag en die ark. Jy is hier.
- 8Volgende: Deel 8 · Aanleer 2 · Poësie en nog watPsalms, Jesaja 35, geslagsregisters en die profete.
Neem dit saam
Laai die boekie af om op jou foon te lees of om uit te deel. Die drukweergawe pas op A4 en vou in die middel tot ’n A5-boekie.