Afleer 1
Wat die Bybel nie is nie
Die vinger, en die maan waarna dit wys
Ontmoeting 2 · Dekonstruksie
Puin ruim
In ontmoeting 2 begin ons nou met dekonstruksie. CJ Labuschagne noem dit in sy boek Wat zegt de Bijbel in Godsnaam? ’n opruimproses (puin ruimen).
Beteken dit nou dat ons uitgaan van die standpunt dat alles wat jy tot dusver van die Bybel geleer het, nou ewe skielik verkeerd of verouderd is? Paulus sou uitroep: “Nee, stellig nie!” (Paulus word hier so bietjie uit konteks aangehaal, maar oor dié flater praat ons later.)
Wat ons wel doen, is om ’n aantal populêre idees en aannames oor die Bybel van nader te bekyk.
In vele opsigte is dit onnadenkende aannames wat mense glo asof dit ewig geldende waarhede is. Dit is idees waarmee jy jouself onbewustelik om die bos lei. Dié verskynsel van selfmisleiding word deur Daniel Goleman in Vital Lies, Simple Truths goed verduidelik.
Om uit hierdie doolhof van misleiding te ontsnap, vra ’n doelbewuste poging van ons kant. Soms word daar deesdae vir hierdie proses die begrip unlearn gebruik.
Dit is nodig om eers die slegte gewoontes af te leer voordat die nuwe gewoonte goed kan vestig.
Die opruim gaan voort met ’n besinning oor wat die Bybel is, of nie is nie.
“Is” en “is nie”
Wat is dit dié?
Dirkie Smit begin in Hoe verstaan ons wat ons lees? die besinning oor Bybelverstaan met hierdie scenario: “Gestel dus ons tel êrens langs ’n pad ’n geskeurde stukkie papier op …”, en ons wil dan probeer om wat op die stukkie papier geskryf staan, te interpreteer.
Ons eerste vraag gaan wees: “Wat het ons hier?” En dan volg ’n hele reeks vrae.
Dit is presies op dié punt waar ’n klomp voorveronderstellings en populêre menings oor die Bybel getoets moet word. Ons doen dit met die “is”–“is nie”-benadering.
Toe ons seuns klein was, het baie van hulle gesprekke uitgeloop op ’n “is-is nie”-stryery. In ’n poging om die konflik te ontlont, het ek dan dikwels probeer ingryp met: “Albei van julle is reg.”
Dit bring dikwels helderheid om die wat-vraag positief én negatief te antwoord.
Die is nie-antwoorde help met afgrensing en ’n fokus op wat dit uiteindelik regtig is, en die is-antwoorde gee groter duidelikheid oor die inhoud waarvan ons praat.
Gelykwaardig, maar nie dieselfde nie
Die Bybel is nie …
Toe ek ’n jong tiener was, het my ma op ’n stadium geoordeel dat dit nou nodig is om met my te begin praat oor die blommetjies en die bytjies. Ek het agtergekom sy is so ’n bietjie onseker oor hoe om die tema aan te pak, en uiteindelik was ons gesprek maar baie kort.
Sy het vir my in een sin opgesom wat sy gedink het ek moet weet: “James, onthou net, ’n vrou is nie ’n man nie.” Punt. Dit was die somtotaal van haar onderrig aan my.
Ek lag vandag nog lekker daaroor, maar op ’n manier het sy haar punt gemaak, né? Sy wou my laat verstaan dat ’n vrou anders is as ’n man: gelykwaardig, maar nie dieselfde nie. En daardie klein stukkie wysheid het my wel in my lewe gehelp.
Dit is wat ons doen wanneer ons met die skynbaar negatiewe stelling “die Bybel is nie …” uiteindelik probeer om iets te sê wat vir iemand waardevol is.
Die plek van die Bybel in die gereformeerde tradisie
Die Bybel is nie God nie
Die klem op sola Scriptura (die Skrif alleen) in die gereformeerde tradisie is alom bekend. Die Bybel speel ’n besonder belangrike rol in hierdie tradisie.
Wanneer jy op ’n Sondag by ’n kerkgebou instap, sal jy gewoonlik ’n Bybel op die kansel sien lê, of ten minste iewers waar dit duidelik sigbaar is. Of dalk moet ek eerder sê: daar behoort ’n Bybel sigbaar te wees, want dit is ’n simbool van hoe belangrik die Bybel vir ons is.
Dit gaan immers nie oor ’n dominee se interessante praatjies of motiveringstoesprake nie. Die predikant se taak is om die Bybel as ’t ware vir ons eie tyd en wêreld te vertolk. Daarom is die Bybel vir ons van deurslaggewende belang.
In kerke van die gereformeerde tradisie lê die Bybel dikwels as ’n kragtige simbool op die kansel. Dit is ook deel van die spiritualiteit van lidmate om groot respek vir hierdie Boek te hê.
Maar dié respek kan goed of sleg wees.
Dit is goed wanneer ons respek vir die Bybel voortvloei uit ons eerbied vir God. Omdat ons God eerbiedig, gaan ons ook met respek met die Bybel om.
Dit het oom Gert in Randfontein my geleer. Toe ek tydens ’n huisbesoek die Bybel nader trek om daaruit te lees, het hy eers opgestaan om sy baadjie aan te trek. Sy verduideliking was eenvoudig: “God is heilig.”
Let wel: nie die boek nie, maar God.
Wanneer die Bybel so ’n sentrale plek in ons geloofslewe inneem, kan dit egter maklik gebeur dat ’n vorm van bibliolatrie (Bybelaanbidding) ontwikkel. Dan begin ons aan die Bybel ’n plek toeken wat eintlik net aan God behoort.
In die verslag oor gereformeerde identiteit wat die Algemene Sinode in 2007 goedgekeur het, is daar ’n veelseggende diagram. Die opstellers het probeer om die kern van gereformeerde identiteit visueel voor te stel. Hulle het aan die Bybel ’n baie belangrike plek gegee, maar tog duidelik gemaak dat God die middelpunt van alles is. Die Bybel is belangrik, maar God bly die kern van die kern.
Dít is gesonde gereformeerdheid.
Die Bybel is vir ons van onskatbare waarde, maar die Bybel is nie God nie. Hierdie onderskeid is noodsaaklik vir ’n gesonde verstaan van die plek van die Bybel binne die gereformeerde tradisie.
Juis daarom is dit nie heeltemal korrek om te sê: “Ek glo in die Bybel” nie. Dit is veel meer genuanseerd, en teologies ook meer verantwoord, om te bely:
“Ek glo in God, en die Bybel help my om in Hom te glo.”
Die vinger en die maan
Ek glo nie in die Bybel nie
Om die onderskeid tussen die Bybel en God duidelik te maak, het ek op ’n dag ’n artikel vir die kerkkoerant geskryf met die opskrif: “Ek glo nie in die Bybel nie.”
Nou ja, dit het ’n paar mense laat frons. Hoe kan ’n dominee dan sê dat hy nie in die Bybel glo nie? Maar dit was juis die bedoeling met die opskrif: om mense te laat nadink oor die onderskeid tussen die Bybel en God.
Ek het destyds ook ’n skilderytjie as illustrasie by die artikel gebruik. Ek het dit iewers in ’n kunswinkeltjie raakgeloop, en dit hang vandag nog in my studeerkamer.
Die prentjie help my om iets belangriks te verduidelik: Die Bybel is soos ’n vinger wat na die maan wys.
Dié metafoor het ek by die Nuwe-Testamentikus Marcus Borg gekry. Dit help ons om die funksie van die Bybel beter te verstaan.
Dink ’n bietjie daaroor na. Wanneer iemand met sy vinger na die maan wys, is die vinger natuurlik belangrik. Dit help jou om die maan raak te sien. Maar die bedoeling is tog nie dat jy na die vinger moet bly kyk nie. Die bedoeling is dat jy die maan moet sien!
So werk dit ook met die Bybel. Die Bybel het ’n verwysende funksie. Dit wys ons na God. Natuurlik moet ons aandag gee aan die vinger, want sonder die vinger sou ons dalk nie die maan raakgesien het nie. Maar uiteindelik gaan dit nie oor die vinger nie. Dit gaan oor die maan.
En dit bring ons terug by die onderskeid wat ek hier wil beklemtoon: Die Bybel is nie God nie.
Die Bybel is die vinger wat na God wys.
Of, om dit eenvoudig te stel: Ons aanbid nie die Bybel nie. Ons aanbid God. Die Bybel help ons om Hom te leer ken en te aanbid.
Claritas Scripturae
Die Bybel is nie duidelik nie
Is die Bybel duidelik? Ons kan nou maklik verdwaal in die ingewikkeldheid van hierdie stelling oor die duidelikheid van die Bybel.
Aan die een kant is daar deur die geskiedenis baie sterk klem daarop gelê dat die Bybel ’n duidelike boek is. In die teologie praat ons van die claritas Scripturae, die duidelikheid van die Skrif. Aan die ander kant is daar ook dikwels daarop gewys dat die Bybel nie in alle opsigte so duidelik is nie.
Maar kom ons begin sommer by jou eie ervaring van Bybellees.
Gestel jy sit met jou Bybel en ’n merkpen in die hand. Jy lees ’n gedeelte wat jou besonder aanspreek en onderstreep dit. Dalk is dit ’n teks uit die eerste Johannesbrief wat sê dat die liefde daarin bestaan dat God ons eerste liefgehad het.
Dit is tog glashelder!
Jy het nie ’n dominee nodig om dit vir jou te verduidelik nie. Jy het nie ’n kommentaar of ’n ander boek nodig om te verstaan wat daar staan nie. Jy verstaan dit sommer self. En jy kan daardie aand met hierdie wonderlike wete gaan slaap: God het my eerste liefgehad.
Maar nou blaai jy verder deur die Bybel. Jy kom by ’n ander gedeelte en sit weer met jou merkpen in die hand. Hierdie keer onderstreep jy iets waarvan jy eenvoudig nie kop of stert kan uitmaak nie. Jy lees dit weer en weer, maar jy het nie die vaagste benul wat dit beteken nie.
En daar sit ons nou met die probleem. Wat bedoel ons wanneer ons sê die Bybel is duidelik? Of wanneer ons sê die Bybel is nie duidelik nie?
Dalk moet ons die saak ’n bietjie noukeuriger formuleer en sê: Die Bybel is nie in alle opsigte duidelik nie.
Later gaan ek verduidelik waarom sommige dele van die Bybel so eenvoudig en verstaanbaar is, terwyl ander dele vir ons amper ontoeganklik bly. Maar kom ons kyk eers ’n bietjie na die teologiese agtergrond van hierdie saak.
Op die oog af klink die stelling dat die Bybel nie altyd duidelik is nie, asof dit teen die gereformeerde tradisie indruis. Die claritas Scripturae is immers ’n belangrike uitgangspunt in hierdie tradisie. Die bekende debat tussen Martin Luther en Erasmus, wat in 1524 begin het, wys hoe vroeg daar reeds verskillend oor die duidelikheid van die Bybel gedink is. Met verloop van tyd het daar egter meer genuanseerde maniere ontwikkel om oor hierdie saak te praat.
Vandag sou ons kon sê dat die bedoeling van die claritas Scripturae nie is om te beweer dat elke gedeelte van die Bybel ewe maklik verstaanbaar is nie. Dit gaan eerder oor die kern van die Bybelse boodskap.
Die boodskap van God se liefde is eenvoudig en duidelik. Selfs kinders kan dit verstaan.
Maar niemand wat die Bybel ernstig lees, sal kan volhou dat alles daarin ewe eenvoudig en duidelik is nie. Soms verstaan ons ’n teks nie omdat ons nie genoeg van die historiese of kulturele agtergrond weet nie. Soms kom ons op gedeeltes af wat mekaar oënskynlik weerspreek. Ander kere is daar historiese of teologiese teenstrydighede wat ons behoorlik laat kopkrap.
Dink maar aan hoe ons in die kerk soms sukkel om oor etiese vraagstukke tot eenstemmigheid te kom. Dit het onder meer daarmee te doen dat ons met ’n ou en ingewikkelde versameling geskrifte werk. Die antwoorde lê nie altyd so eenvoudig voor die hand nie.
’n Boek wat jou kop aan die brand steek
Die Ou-Testamentikus Robert Carroll maak ’n besonder interessante opmerking oor die lees van die Bybel:
“If you can tolerate contradiction and contrariety and can handle hyperbolic drive, then the Bible will burn your mind.”
Robert Carroll, bl. 147
Hy sê eintlik dat, as jy bereid is om met teenstrydighede en spanning saam te leef, en as jy die soms oordrewe en uitdagende taal van die Bybel kan hanteer, hierdie boek jou denke behoorlik aan die brand kan steek. Dis ’n wonderlike manier om dit te stel. As jy bereid is om ’n bietjie vas te byt, met ’n oop gemoed te lees en nie sommer met maklike antwoorde tevrede te wees nie, kan die Bybel jou op verrassende maniere laat dink.
Steven McKenzie begin sy boek How to Read the Bible met ’n ewe uitdagende stelling:
“The thesis of this book is simple. It is that many—I would even venture to say ‘most’—people who read the Bible misunderstand it. This is not exactly a novel claim.”
Steven L. McKenzie, How to Read the Bible, bl. 1
Met ander woorde: Baie mense wat die Bybel lees, verstaan dit verkeerd. McKenzie waag dit selfs om te sê dat dit waarskynlik vir die meeste Bybellesers geld! Dis nogal ’n skerp stelling, veral as ons dink aan hoe maklik ons soms aanvaar dat ons presies weet wat die Bybel sê.
Is die Bybel dan duidelik of nie?
Ek dink die mooi Afrikaanse ja-nee is hier nogal ’n goeie antwoord.
Ja, die groot boodskap van die Bybel is duidelik. Ons hoef nie te twyfel oor die kern van die evangelie, oor God se liefde en genade nie. Maar nee, dit beteken nie dat elke teks eenvoudig is of dat ons altyd presies weet wat daarmee bedoel word nie.
Soms bly ons met meer vrae as antwoorde sit. Soms bly daar eenvoudig ’n raaisel oor. En dalk is dit nie noodwendig ’n slegte ding nie. Dalk is dit juis deel van wat dit beteken om die Bybel ernstig te lees.
Ek sluit af met nog ’n opmerking van Robert Carroll. Hierdie keer is hy selfs skerper:
“If reading the Bible does not raise profound problems for you as a modern reader, then check with your doctor and enquire about the symptoms of brain-death.”
Robert Carroll
Dis nogal kras gestel! Maar Carroll se punt is duidelik: As jy die Bybel lees en dit laat jou nooit wonder, twyfel, vrae vra of diep nadink nie, moet jy dalk begin wonder of jy werklik besig is om die Bybel ernstig te lees.
Die Bybel is nie altyd ’n maklike boek nie. Maar juis daarom is dit so ’n fassinerende boek om te lees.
Die Bybel is nie ’n boek van ons tyd nie
Die Bybel is nie eietyds nie
Het jy al ’n ou Afrikaanse boek opgetel wat, sê nou maar, 50 of 80 jaar gelede geskryf is? Dis Afrikaans, ja, maar jy kom gou agter dat die wêreld waaroor die boek praat en die taal waarin dit geskryf is, nogal anders is as waaraan jy vandag gewoond is.
En dis maar hoe dit werk. Die wêreld verander. Taal verander. Die manier waarop mense dink en praat, verander ook. Die boek wat jy in jou hand hou, is eenvoudig nie ’n boek van jou tyd nie.
En met die Bybel is dit presies dieselfde. Die Bybel is nie ’n eietydse boek nie. Dit is ’n boek uit ’n ander tyd.
Dit het natuurlik groot implikasies vir die manier waarop ons die Bybel verstaan. Juis omdat ons die Bybel wil verstaan, is daar deur die jare talle vertalings gemaak wat probeer om die boodskap daarvan in die taal van vandag se mense oor te dra. Dink maar aan vertalings en parafrases soos Die Boodskap en Good News. Die bedoeling daarmee is duidelik: Mense moet die Bybel in hulle eie taal en idioom kan lees en verstaan.
En daar is beslis plek vir sulke vertalings. Maar dit hou ook ’n gevaar in. Dit kan maklik die indruk skep dat die Bybel eintlik ’n boek van ons eie tyd is, wat sommer vanselfsprekend binne ons wêreld pas. En dit is eenvoudig nie waar nie.
Die Bybel is in sy aard nie eietyds nie. Dit is ’n boek van destyds.
Die 2020-vertaling van die Bybel het juis ’n ander benadering gevolg. Die vertalers het probeer om iets van die oorspronklike taal en die wêreld waarin die Bybel ontstaan het, te behou. Só word die leser daaraan herinner dat ons hier met ’n ou boek te doen het. ’n Antieke boek.
Natuurlik het die Bybel baie te sê oor die lewe vandag. Dit spreek steeds sake aan waarmee ons in ons eie tyd worstel. Maar ons moet onthou dat dit, wat taal en kultuur betref, ’n boek uit toeka se dae is. En dit maak nogal ’n groot verskil aan hoe ons dit behoort te lees.
Later in hierdie reeks gaan ons in meer besonderhede kyk na wat dit vir verantwoordelike Bybeluitleg beteken. Die implikasies daarvan is enorm.
Baie mense besef eenvoudig nie dat die Bybel deur mense uit die antieke Nabye Ooste geskryf is nie. Dit is nie ’n goddelike dokument wat klaar geskryf uit die hemel geval het nie. Dit is ’n versameling geskrifte wat in bepaalde tye, op bepaalde plekke en binne bepaalde kulture ontstaan het.
Die Bybel dra die vingerafdrukke van die wêreld waarin dit geskryf is.
En daardie wêreld was baie anders as ons s’n. Mense het anders oor die lewe gedink. Hulle het anders oor die wêreld, oor die natuur, oor die samelewing en selfs oor hulleself gedink. Hulle het met ander vrae geworstel en op ander maniere na antwoorde gesoek.
As ons dit nie raaksien nie, loop ons die gevaar om ons eie wêreld en ons eie manier van dink sommer in die Bybel in te lees. En dan verstaan ons die Bybel maklik verkeerd.
Die Bybel het baie vir ons tyd te sê, maar dit is nie ’n boek uit ons tyd nie.
Wie dit nie besef nie, het nog nie geleer om die Bybel behoorlik te lees nie.
Biblia beteken boeke
Die Bybel is nie ’n boek nie
Reg langs die stelling dat die Bybel nie ’n boek is nie, sien jy ’n foto van die Bybel as ’n boek! Dis mos hoe ons almal die Bybel ken. Selfs die woord Bybel hou verband met die Griekse woord biblia, wat “boeke” beteken.
Hoe kan ek dan sê die Bybel is nie ’n boek nie? Is dit nie ’n onsinnige stelling nie? Natuurlik is die Bybel ’n boek. Of, om meer presies te wees, ’n versameling boeke. Maar kom ons dink ’n bietjie verder.
Was die Christelike geloof van die begin af ’n godsdiens wat om ’n boek gedraai het? Die Christendom is immers ’n historiese godsdiens. Dit het ontstaan uit gebeure in die geskiedenis, en veral uit die lewe en optrede van Jesus.
Jesus het nie mense genooi om ’n nuwe boek te lees nie. Hy het hulle genooi om Hom te volg.
Natuurlik het Jesus die Joodse geskrifte geken en uitgelê. Sy verstaan van die Torah was ’n belangrike deel van sy boodskap. Maar die mense wat op sy uitnodiging gereageer het, het nie in die eerste plek aanhangers van ’n boek geword nie. Hulle het volgelinge van Jesus geword. Dit is ’n belangrike onderskeid.
Die Bybel was nie altyd ’n boek soos ons dit vandag ken nie
Wat ek nou gaan doen, is om ons gewone manier van dink oor die Bybel as ’n boek ’n bietjie uit te daag. Dink ’n oomblik aan die geskiedenis.
Ons ken die Bybel as ’n boek wat ons kan optel, oopmaak en lees. Ons kan maklik van Genesis na Openbaring blaai. Ons kan tekste opsoek, gedeeltes onderstreep en verskillende dele met mekaar vergelyk. Maar dit was nie altyd so nie.
Reeds in 367 n.C. kry ons in die 39ste Paasbrief van Atanasius ’n lys van die 27 boeke van die Nuwe Testament soos ons dit vandag ken.
Maar hoe het die Bybel tussen daardie tyd en die koms van die boekdrukkuns gefunksioneer? Natuurlik was daar manuskripte. Bybeltekste is met die hand oorgeskryf en bewaar. Daar was ook versamelings van Bybelboeke.
Maar die meeste gelowiges het nie ’n volledige Bybel besit wat hulle kon oopmaak en lees soos ons vandag doen nie. Hulle het die Bybel hoofsaaklik leer ken deur daarna te luister wanneer dit in die geloofsgemeenskap voorgelees en uitgelê is.
Dit was dus ’n heel ander ervaring van die Bybel as wat ons vandag ken. Ek kom later weer hierop terug.
Die boekdrukkuns het baie verander
Een van die eerste groot boeke wat Johannes Gutenberg in die middel van die vyftiende eeu gedruk het, was juis die Bybel: die Gutenberg-Bybel van 1454/5.
Nou moet ons natuurlik erken dat die Bybel vandag wel ’n boek is. Dit lê voor ons as ’n boek, of eintlik as ’n klein biblioteek van verskillende boeke. En dit het ’n groot invloed op die manier waarop ons die Bybel lees en verstaan. Veral sedert die uitvinding van die boekdrukkuns het ons al hoe meer daaraan gewoond geraak om die Bybel as ’n boek te hanteer.
Die boekdrukkuns het ook ’n geweldige rol in die Reformasie gespeel. Dit het Bybels baie meer toeganklik gemaak en mense in staat gestel om self die Bybel te lees. Dit was natuurlik ’n wonderlike ontwikkeling. Maar dit het ook gevolge gehad wat niemand noodwendig voorsien het nie.
Dicta probantia
’n Papierpous
Die Bybel het mettertyd vir baie mense ’n soort naslaanboek geword. Jy het ’n vraag, jy slaan die Bybel oop en jy soek ’n teks wat vir jou die antwoord gee.
In die teologie het die gebruik ontstaan om bepaalde leerstellings met Bybeltekste te bewys. Ons praat van dicta probantia, of bewystekste. Jy maak ’n stelling en haal dan ’n paar tekste aan om te bewys dat jy reg is.
Maar dink net wat gebeur wanneer mense verskillende standpunte het. Ek haal my tekste aan om my standpunt te bewys. Jy haal jou tekste aan om joune te bewys. En dan begin ons as ’t ware ons Bybeltekste teen mekaar opstapel.
Die een met die meeste tekste dink hy het die argument gewen!
So kan die Bybel, wat ons eintlik moet help om God beter te leer ken, ’n instrument word waarmee ons mekaar probeer verkeerd bewys. Hierdie manier van Bybellees het ook bygedra tot die verdeeldheid tussen kerke. Die probleem is nie dat ons die Bybel lees of tekste aanhaal nie. Die probleem ontstaan wanneer ons vergeet waarvoor die Bybel eintlik daar is.
Die Bybel kan ’n papierpous word
Die bekende teoloog Karl Barth het ons gehelp om weer anders hieroor te dink. Vir Barth staan Jesus Christus sentraal as die eintlike Woord van God. Die Bybel is van groot belang omdat dit van Hom getuig.
Barth het gewaarsku dat die Bybel vir ons ’n soort papierpous kan word. Dis nogal ’n treffende beeld! Die Protestante het hulle teen die gesag van die pous verset. Maar nou kan dit gebeur dat ons die pous bloot met ’n boek vervang. Dan behandel ons die Bybel asof dit op sy eie, los van God en die werk van die Heilige Gees, die finale gesag is.
Barth waarsku dat die Bybel op dié manier selfs ’n instrument van menslike mag kan word. Mense gebruik dan die Bybel om hulle eie standpunte te regverdig en gesag oor ander uit te oefen. Hy skryf in sy Church Dogmatics dat die Bybel, wanneer dit losgemaak word van die geheimenis van Christus en die Heilige Gees, ’n “paper Pope” kan word.
Die Bybel is nie God nie. Die Bybel getuig van God.
Dink ’n bietjie aan die nagmaal
Kom ek gebruik ’n ander voorbeeld om hierdie gedagte te verduidelik. Wanneer ons nagmaal vier, gebruik ons brood en wyn. Nou kan ek jou vra: Is die brood regtig brood? En is die wyn regtig wyn? Natuurlik!
Maar ons weet mos dat die brood en wyn by die nagmaal baie meer beteken as net gewone kos en drank. Dit verwys na Christus. Dit herinner ons aan sy lewe, sy sterwe en wat Hy vir ons beteken. Ons praat daarom van die sakramentele betekenis van die brood en wyn. Die brood en wyn is belangrik, maar nie bloot omdat dit brood en wyn is nie. Dit is belangrik omdat dit na iets veel groters verwys.
En nou wil ek voorstel dat ons op ’n soortgelyke manier oor die Bybel dink. Natuurlik is die Bybel ’n boek. Ons kan dit optel, oopmaak en lees. Maar die Bybel is meer as net ’n boek. Dit het ook ’n verwysende, en in daardie sin ’n sakramentele, betekenis. Dit wys weg van homself na God.
Die Bybel is nie die eindpunt van ons geloof nie. Dit help ons om God te leer ken. En dit bring ons terug by die beeld wat ons vroeër gebruik het: Die Bybel is die vinger wat na die maan wys. Ons moet aandag gee aan die vinger, maar uiteindelik gaan dit oor die maan.
Ons glo nie in ’n boek nie. Ons glo in God. En die Bybel help ons om Hom te leer ken.
De facto is die Bybel ’n boek
Ten spyte van wat ek nou gesê het, bly die Bybel natuurlik ’n boek, of eintlik ’n versameling boeke. Dit is immers hoe ons die Bybel ken en gebruik.
Wanneer ons die Bybel wil verstaan, moet ons met die tekste werk. Ons lees die verskillende boeke van die Bybel en probeer verstaan wat daarin staan. Dit is ons toegang tot die Bybel.
Maar hier is die belangrike punt: Die Bybel is baie meer as net ’n boek, al leer ons dit deur die tekste ken.
Dit het groot implikasies vir die manier waarop ons die Bybel lees en verstaan. Ons kan nie wegkom van die feit dat die Bybel ’n boek is nie. Maar ons moet ook leer om anders daaroor te dink. Eers dan kan ons begin raaksien wat die Bybel so besonders maak en waarin sy eie aard lê.
Linmari se eksperiment
Die Bybel is nie vir jou geskryf nie
My kleindogter Linmari sê op ’n dag sy wil my iets oor die Bybel vra. Sy vertel toe dat die tannie by die jeuggroep gesê het ’n mens moet net die Bybel oopmaak en begin lees. Dan sal die Here met jou praat.
Maar toe kom Linmari met haar vraag: “Ek het dit gedoen, maar dit werk nie!”
Ek verstaan die tannie se goeie bedoelings. Maar ek dink sy moes vir Linmari ’n bietjie meer verduidelik het oor hoe die Bybel werk. Nou het sy haar met ’n eksperiment gelos wat nie gewerk het nie.
Sy kon byvoorbeeld verduidelik het dat die Bybel ’n baie ou boek is. Dit kom uit ’n wêreld wat heeltemal anders as ons s’n was. Daar is ’n groot afstand tussen ons wêreld en die wêreld waarin die Bybel ontstaan het. Daarom is dit nie altyd so maklik om te verstaan wat ons lees nie.
Waarheid in die geloofsgemeenskap …
Maar daar is nog iets belangriks. Die Bybel is nie net ’n boek wat elkeen op sy eie moet probeer verstaan nie. Dit is ook die boek van die kerk. Dit beteken dat ons die Bybel saam met ander gelowiges lees en probeer verstaan.
Natuurlik kan en moet jy ook op jou eie Bybel lees. Maar selfs wanneer jy alleen lees, is jy deel van ’n groter geloofsgemeenskap. Ander mense het lank voor jou die Bybel gelees en daaroor nagedink. En vandag is daar steeds mense saam met wie jy daaroor kan gesels.
Daarom moet ons bereid wees om ons eie verstaan van die Bybel aan dié van ander te toets. Ons luister na mekaar, vra vrae en leer by mekaar. Soms help iemand anders ons om iets raak te sien wat ons self misgekyk het.
Bybellees is nie ’n solo-poging nie. Dit is spanwerk!
Daar is dus ’n belangrike wisselwerking tussen ons persoonlike Bybellees en die manier waarop ons die Bybel saam met ander gelowiges lees en verstaan.
… en daar buite
Die teoloog Jürgen Moltmann praat van unhindered dialogue: ’n oop gesprek waarin mense vry is om vrae te vra, van mekaar te verskil en saam na die waarheid te soek.
“Behind all of this is the conviction that, humanly speaking, truth is to be found in unhindered dialog.”
Jürgen Moltmann
Dit is juis in sulke oop en eerlike gesprekke dat ons mekaar kan help om die Bybel beter te verstaan. Ons hoef nie alleen met ons vrae oor die Bybel te worstel nie. Ons kan saam lees, saam dink en saam ontdek.
Kan ons God deur die Bybel leer ken?
Die Bybel is nie ’n God-handleiding nie
Ons het reeds ’n belangrike onderskeid gemaak: Die Bybel is nie God nie. Die Bybel werk in sekere opsigte soos die sakramente. Dit wys ons na God. Dit help ons om God te leer ken.
Maar dit beteken nie dat die Bybel ’n soort handleiding is waarin ons alles oor God kan naslaan nie.
Wanneer jy die Bybel lees en bestudeer, beteken dit nie dat jy nou alles van God weet nie. Jy kry nie beheer oor God omdat jy die Bybel goed ken nie.
God bly altyd groter as wat ons van Hom kan verstaan. Daar bly iets geheimnisvols en ontsagwekkends aan God. Selfs mense wat hulle lewe lank die Bybel bestudeer, kan nie daarop aanspraak maak dat hulle God ten volle verstaan nie.
Jy kan dus nie sommer by ’n dominee gaan aanklop en verwag dat hy of sy al die antwoorde oor God sal hê nie. Trouens, dominees behoort van die eerste mense te wees wat bereid is om te sê: “Ek weet nie.”
Dit is belangrik om dit in gedagte te hou wanneer ons nou in hierdie gespreksreeks op die Bybel fokus. Ons doel is nie om aan die einde te kan sê: “Nou weet ons presies wie God is en hoe Hy werk” nie. Ons wil eerder leer hoe om die Bybel verantwoordelik te lees, sodat dit ons kan help om God beter te leer ken.
Ons kan nie alles van God weet nie, maar ons kan tog iets van sy hart leer ken.
God is on-begryp-lik
In ’n paar reëls sê die digter Johan Steyn wat ek met baie woorde probeer sê het tot hiertoe. Die klem op die onbegryplikheid van God, op die basiese vertrekpunt van beskeie wees oor wat ons weet, kom in hierdie gedig na vore.
Ek stel voor jy lees dit rustig deur en maak dit jou eie.
Ek maak ’n polshorlosie oop
Johan Steyn
om na te gaan hoe alles loop,
om al die ratjies te sien draai
wat wysers vorentoe laat swaai;
maar hy kom agter wat ek wil
en staan doodstil.
Jesus nooi ons om anders na die Bybel te luister
Die Bybel is sag en lig
Ons het nou ’n hele paar dinge bespreek wat die Bybel nie is nie. Dit was belangrik, en ons het ook verduidelik waarom. Maar ek wil hierdie gedeelte graag op ’n positiewe noot afsluit. Daarvoor gaan ons na Matteus 11.
Hoe kan die Bybel ons help om God beter te leer ken en sy wil vir ons lewe te verstaan? Kom ons begin by Matteus 11:28. Lees eers die teks rustig deur.
Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle, en leer van My, omdat Ek sagmoedig en nederig van hart is, en julle sal rus vind vir julle gemoed.
Matteus 11:28–29
Jesus nooi mense wat moeg en oorlaai is om na Hom toe te kom. In die verse wat volg, nooi Hy hulle om sy juk op hulle te neem. Nou klink dit dalk na ’n vreemde uitnodiging. Waarom sou iemand wat reeds swaarkry, nog ’n juk op sy skouers wil neem?
Maar hier help die Nuwe-Testamentikus N.T. Wright ons om die teks beter te verstaan. In sy kommentaar verduidelik Wright dat die woord juk ’n besondere betekenis het. Dit kan verwys na die manier waarop ’n rabbi die Tora, die wet van God, verstaan en uitlê.
“It gave him the platform from which to issue what is still the most welcoming and encouraging invitation ever offered. ‘Come to me,’ he said, ‘and I’ll give you rest.’ The Pharisees had spoken of people being called to carry ‘the yoke of the Torah’, the heavy burden of the Jewish law with all its commandments. Jesus offered a different ‘yoke’, which, because it came from his mercy and love, was easy to bear.”
N.T. Wright, Matthew for Everyone, deel 1, bl. 136
Wanneer Jesus mense dus nooi om sy juk op hulle te neem, nooi Hy hulle om by Hom te kom leer hoe om God se wil te verstaan en daarvolgens te leef. Ons sou ook kon sê: Jesus nooi mense om na sy verstaan en uitleg van die Skrif te luister.
En dan sê Jesus iets besonders: Sy juk is sag en sy las is lig.
Die taal wat ons hier hoor, is nie dié van iemand wat met ’n hamer in die hand staan en dreig nie. Dit beteken nie dat Jesus se woorde altyd maklik is om te hoor nie. Die Bybel praat soms baie reguit met ons en stel ons voor moeilike uitdagings. Maar wanneer ons na Jesus luister, ontdek ons dat sy boodskap nie bedoel is om ons onder nog swaarder laste te laat gebuk gaan nie.
Dit is wat Jesus met die Bybel van sy tyd doen. Hy pleit by mense om nie die Fariseërs se harde interpretasie te aanvaar nie. Hy is ernstig oor die Tora, maar dan as die woorde wat bevryding bring en nie verslawing nie.
Jesus praat van ’n interpretasie wat sag is en die lewe lig maak.
Inteendeel, Hy nooi ons om iets van die bevrydende en genesende krag van die evangelie te ervaar. En dit is iets wat ons telkens gaan ontdek wanneer ons die Bybel lees.
Lees daarom Matteus 11:28–30 en daarna ook N.T. Wright se verduideliking van die gedeelte. Dink dan ’n bietjie na oor wat hierdie uitnodiging vir jou beteken: Jesus nooi jou om by Hom te leer hoe om God se wil te verstaan en daarvolgens te leef. Dit is ’n wonderlike manier om oor Bybellees te dink.
Ons glo nie in ’n boek nie. Ons glo in God. En die Bybel help ons om Hom te leer ken.
James Kirkpatrick
Die Bybel is die vinger wat na die maan wys.
Die reeks
Op pad na helderheid
- 1Deel 1 · Die Bybel, ’n kompas in ’n ingewikkelde wêreldInleiding: waarom leer ons om die Bybel te lees?
- 2Deel 2 · Ses lesse in kompasleesInleiding: die groter prentjie, en wat op die pad voorlê.
- 3Deel 3 · Kom, laat ons van harte dinkTussenstuk: net voor ons met Afleer 1 begin.
- 4Deel 4 · Afleer 1 · Wat die Bybel nie is nieDie eerste afleersessie. Jy is hier.
- 5Volgende: Deel 5 · Afleer 2 · God se Woord, nie God se woorde nieDrie tradisies en drie Bybels, drie flaters, en teenstrydighede.
- 6Deel 6 · Aanleer 1a · Die driepuntgreepDie teks, die geskiedenis en die leser, en verteltekste.
- 7Deel 7 · Aanleer 1b · Stories met ’n bedoelingGelykenisse, Jona, en Noag en die ark.
- 8Deel 8 · Aanleer 2 · Poësie en nog watPsalms, Jesaja 35, geslagsregisters en die profete.
Neem dit saam
Laai die boekie af om op jou foon te lees of om uit te deel. Die drukweergawe pas op A4 en vou in die middel tot ’n A5-boekie.