Aanleer 1a
Die driepuntgreep
Drie kontakpunte vir verantwoordelike Bybellees: die teks, die geskiedenis en die leser. En ’n eerste kyk na die stories in die Bybel.
Aanleer
Hoe voel die nuwe greep in jou hand?
Hoe voel die nuwe greep in jou hand? Lê dit al gemaklik? Is jy al lus om dit te gebruik? Waarskynlik nog nie.
In die teologie is daar ’n vakgebied wat ons hermeneutiek, of die verstaansleer, noem. Dit gaan oor hoe ons tekste verstaan en interpreteer, ook die Bybel.
Jy kan jou voorstel dat daar nie net een manier is om die Bybel te lees nie.
Ons gaan nou kyk na ’n manier van Bybellees wat ons glo ons kan help om die Bybel beter te verstaan.
’n Prentjie
Die driepuntkontakreël
Wanneer ek iets wil verduidelik, help dit my om ’n prentjie te gebruik. En vir hierdie nuwe manier van Bybellees het ek weer so ’n prentjie.
In die boubedryf is daar ’n veiligheidsreël vir die gebruik van ’n leer. Dit word die driepuntkontakreël genoem.
Om veilig op ’n leer te klim, moet jy altyd op drie plekke kontak met die leer hê: óf twee hande en een voet, óf een hand en twee voete.
Hierdie eenvoudige beeld gaan ek nou gebruik om ’n manier van Bybellees te verduidelik.
Literêr-histories-kontekstueel
Drie kontakpunte
Onthou jy die driepuntkontakreël van die leer? As jy veilig wil klim, moet jy altyd op drie plekke kontak met die leer hê.
As jy een kontakpunt verloor, raak jou greep minder stewig en kan jy jou balans verloor. Dieselfde geld wanneer ons die Bybel lees. Ons het ook drie kontakpunte nodig om ons greep stewig te hou.
1 · Literêr
Die eerste kontakpunt is die teks. Hier begin ons klim. Ons kyk mooi na wat daar staan, hoe dit geskryf is en watter soort taal die skrywer gebruik.
2 · Histories
Die tweede kontakpunt is die geskiedenis. Die Bybeltekste kom uit ’n ander tyd en wêreld. As ons nie rekening hou met die geskiedenis en omstandighede waarin die tekste ontstaan het nie, verloor ons maklik ons balans.
3 · Kontekstueel
Die derde kontakpunt is die leser. Ons klim nie sonder ons eie bagasie op die leer nie. Ons bring ons eie ervarings, vrae en idees saam wanneer ons die Bybel lees. Ook daarvan moet ons bewus wees.
- Literêr Ons kyk na die teks en hoe dit geskryf is.
- Histories Ons kyk na die wêreld waarin die teks ontstaan het.
- Kontekstueel Ons kyk na ons eie wêreld waaruit ons die teks lees.
As ons een van hierdie kontakpunte ignoreer, raak ons greep op die Bybel minder stewig en kan ons maklik ons balans verloor.
Daarom gaan ons in hierdie Kompas-reeks met al drie kontakpunte werk. Dit is ons driepuntgreep vir verantwoordelike Bybellees.
Kontakpunt 1 · Die teks
Verskeie soorte tekste
Om die Bybel oop te maak, is amper soos om by ’n biblioteek in te stap.
Die woord Bybel kom van die Griekse woord biblia, wat “boeke” beteken. En dit is presies wat die Bybel is: ’n versameling van verskillende boeke.
Dink jou in jy stap by ’n biblioteek in. Jy haal ’n boek van die rak af en begin lees: “Eendag was daar …” Sommer dadelik weet jy dat jy waarskynlik ’n storie lees.
Jy maak ’n volgende boek oop en sien gedigte. Nog ’n boek bevat kaarte van veldslae en datums van gebeure. Jy besef dadelik dat jy met ’n geskiedenisboek te doen het.
Dit werk ook so met die Bybel. Daar is verskillende soorte tekste, en elkeen moet op sy eie manier gelees word.
- Verteltekste
- Poëtiese tekste
- Geslagsregisters
- Wysheidstekste
- Profetiese tekste
- Apokaliptiese tekste
- Regstekste
- Briewe
- Evangelies
Jy lees tog nie ’n gedig soos ’n geskiedenisboek nie!
Die sielkundige Abraham Maslow het in 1966 iets gesê wat ook hier van toepassing is:
As die enigste gereedskap wat jy het ’n hamer is, is die versoeking groot om alles soos ’n spyker te behandel.
Abraham Maslow, 1966
Dit geld ook vir Bybellees. Jy kan nie elke teks op dieselfde manier lees nie. Vir die een het jy, by wyse van spreke, ’n hamer nodig en vir die ander ’n skroewedraaier.
’n Vreemde teks
’n Vreemde boek
Let op die uitdagings waarvoor die teks van die Bybel ons stel. Die publikasiedatum van dié boek is nie 2026 nie.
Dit is in vele opsigte ’n vreemde teks met dikwels ontoeganklike beelde uit ’n kultuur wat radikaal anders is as dit wat ons ken. Vergelyk die aanhaling van Walter Brueggemann.
The Bible is a strange book of odd literature with obscure images from alien cultures very different from our own.
Walter Brueggemann, 2003
Die Bybel is ’n vreemde boek vol eienaardige literatuur, met duister beelde uit vreemde kulture wat baie van ons eie verskil.
Die teks · Verteltekste
Verteltekste, of sommer stories
Die eerste soort teks waarna ons gaan kyk, is verteltekste. Ons kan dit ook sommer stories noem.
Dit is tekste wat nie noodwendig probeer vertel wat werklik in die geskiedenis gebeur het nie. Dit is stories wat iets belangriks wil sê oor die lewe en die wêreld waarin mense leef.
Maar wat bedoel ons wanneer ons van ’n storie praat?
In hierdie reeks gebruik ons die woord storie vir ’n kreatiewe vertelling wat nie bedoel is om ’n verslag van historiese gebeure te wees nie.
Wat vertel word, is dus nie noodwendig wat werklik gebeur het nie.
Dit beteken egter nie dat stories niks met die geskiedenis te doen het nie. Stories ontstaan binne ’n bepaalde historiese wêreld en kan ons baie vertel van die mense en die tyd waarin hulle geleef het.
Bybelstories: sowaar die waarheid!
Die waarheid in verskillende verpakkings
Die waarheid van die Bybel kom na ons toe in verskillende verpakkings.
Sommige verhale vertel van gebeure wat werklik plaasgevind het. Ander is kreatiewe vertellings wat nie noodwendig beskryf wat in die geskiedenis gebeur het nie.
Ons noem dit historiese en fiktiewe vertellings. Albei kan op hulle eie manier iets waar en belangrik vir ons sê.
Baie Bybelverhale kom uit ’n wêreld waarin mense graag stories gebruik het om belangrike waarhede oor te dra. Daarom moet ons nie elke verhaal lees asof dit ’n verslag van historiese gebeure is nie.
’n Storie hoef nie werklik te gebeur het om iets waar te sê nie.
Ons gaan nou spesifiek kyk na hierdie soort verhale in die Bybel en hoe ons dit behoort te lees.
Once upon a time
Eendag was daar …
Wanneer jy by ’n biblioteek instap, ’n boek van die rak afhaal en op die eerste bladsy lees: “Once upon a time” of “Eendag was daar”, weet jy dadelik dat jy met ’n storie te doen het.
Iemand vertel ’n verhaal om daarmee iets belangriks te sê.
Die punt wat ons in hierdie reeks maak, is dat daar ook heelwat sulke verhale in die Bybel is.
Maar baie mense sukkel om dit te aanvaar. Dit het te doen met die manier waarop hulle oor waarheid dink. Hulle aanvaar dat ’n verhaal net waar kan wees as dit werklik gebeur het.
Maar is dit regtig so? Kom ek verduidelik.
Kan ’n storie waar wees?
Dit is waar as …
“Ag, dis net ’n storie!”
Wanneer ons dit sê, bedoel ons gewoonlik dat iets nie waar is nie.
Ons dink dikwels dat iets net waar kan wees as dit logies is, bewys kan word en werklik gebeur het.
- Rasionalisme dit is waar as dit logies sin maak
- Empirisme dit is waar as dit bewys kan word
- Historisme dit is waar as dit werklik gebeur het
Maar dit is ’n baie beperkte manier om oor waarheid te dink.
’n Voorbeeld
Is Rooikappie waar?
Kom ons neem die bekende verhaal van Rooikappie as voorbeeld.
Wanneer ek vir mense vra: “Is die storie van Rooikappie waar?”, is die antwoord altyd: “Nee, natuurlik nie!” En hulle is reg as hulle bedoel dat die gebeure in die verhaal nie werklik plaasgevind het nie.
Maar beteken dit dat die storie niks waar vir ons sê nie?
Natuurlik nie! Rooikappie dra ’n belangrike waarheid oor. Dit waarsku kinders teen gevare en leer hulle om versigtig te wees vir mense wat hulle kan mislei. Die wolf in die verhaal stel juis sulke gevare voor.
Die verhaal hoef dus nie werklik te gebeur het om iets waar en belangrik te sê nie.
En dit is presies waar ons soms sukkel wanneer ons die Bybel lees. Ons dink ’n verhaal kan net waar wees as alles daarin werklik gebeur het. Met so ’n beperkte verstaan van waarheid mis ons maklik die boodskap van baie Bybelverhale.
Waarheid kan ook deur ’n storie na ons toe kom.
Dink maar aan sprokies, fabels, legendes, spreuke en anekdotes. Mense gebruik hierdie soort vertellings al eeue lank om lewenswysheid en waardes aan ander oor te dra.
Waarom stories?
Stories is soos die wind
Stories help ons om die lewe beter te verstaan. Dit gee nie altyd eenvoudige antwoorde nie, maar laat ons nadink oor die ingewikkelde wêreld waarin ons leef.
In die Joodse en Christelike tradisies speel stories ’n besonder belangrike rol. Dit is een van die maniere waarop mense oor God, die lewe en hulle verhouding met ander nadink.
Die Suid-Afrikaanse skrywer Laurens van der Post het stories met die wind vergelyk. Ons kan nie die wind sien nie, maar ons kan dit voel. So werk stories ook. Hulle raak ons aan en laat ons anders na die lewe kyk.
Die teoloog Ferdinand Deist het ook die besondere krag van stories beklemtoon. Een goeie verhaal kan soms meer vir ’n mens beteken as ’n hele rak vol teologiese boeke.
Daar is goeie redes waarom stories so ’n belangrike plek in opvoeding het. Lank voordat daar moderne kommunikasiemiddele was, het mense stories gebruik om kennis, waardes en lewenswysheid van een geslag na die volgende oor te dra.
Wanneer ons na ’n storie luister, gebruik ons ons verbeelding. Ons sien die gebeure voor ons afspeel en leef saam met die karakters. Só ontdek ons dikwels waarhede wat moeilik op ’n ander manier verduidelik kan word.
Dit is daarom nogal vreemd dat sommige Christene huiwer om van stories in die Bybel te praat. Asof ’n verhaal minder werd is wanneer dit nie presies beskryf wat histories gebeur het nie. Maar dit is glad nie nodig om so daaroor te dink nie.
As ons nie die stories in die Bybel as stories leer lees nie, loop ons die gevaar om van die mooiste insigte oor God en die lewe mis te loop.
Twee soorte taal
Logos en mythos
Die Katolieke teoloog Richard Rohr het interessante dinge geskryf oor die verskillende maniere waarop taal gebruik word. Hy onderskei tussen logos-taal en mythos-taal.
Logos-taal help ons om dinge te verduidelik, te ontleed en logies te verstaan. Dit is die soort taal wat ons dikwels in die wetenskap gebruik.
Mythos-taal help ons om oor die dieper vrae van die lewe na te dink. Dit gebruik verhale, beelde en simbole om iets oor ons menswees, ons verhouding met God en die betekenis van die lewe te sê.
Hierdie twee soorte taal sluit mekaar nie uit nie. Hulle help ons bloot om verskillende kante van die werklikheid te verstaan.
Hier volg twee aanhalings van Richard Rohr wat ek graag wil hê jy moet lees.
Scholars since Mircea Eliade (1907–1986) have been making good use of a distinction between logos, or problem-solving language, and mythos. Logos language includes facts, data, evidence, and precise descriptions. Rob Bell describes how “logos language and thinking got us medicine, got us airplanes. … For the past three hundred years we have had an explosion of logos language. … But the problem is, there are whole dimensions of our existence that require a different way of thinking.”
Richard Rohr
Logos-taal is feite, data, bewyse en presiese beskrywings. Dit het vir ons medisyne en vliegtuie gegee. Maar daar is hele dimensies van ons bestaan wat ’n ander manier van dink vra.
Bell rightly says, “The Bible is mostly written in mythos language. … Good religion traffics in mythos. … Mythos language is for that which is more than literally true. … Evolutionary science does an excellent job of explaining why I don’t have a tail. It just doesn’t do so well explaining why I find that interesting!” We need mythos language to express the more-than-factual meaning of experiences like falling in love, grief, and death.
Richard Rohr
Die Bybel is meestal in mythos-taal geskryf: taal vir dit wat meer as letterlik waar is. Die wetenskap verduidelik waarom ek nie ’n stert het nie, maar nie waarom ek dit interessant vind nie. Ons het mythos-taal nodig vir verliefdheid, rou en die dood.
Baie Bybeltekste gebruik verhale en beeldspraak om waarhede oor God en die lewe oor te dra. Daarom moet ons nie elke teks lees asof dit ’n wetenskaplike verduideliking of ’n verslag van historiese gebeure is nie.
As jy die onderskeid tussen logos en mythos verstaan, kan dit jou help om die Bybel met nuwe oë te lees. Jy begin raaksien hoe verskillende soorte taal op verskillende maniere betekenis oordra.
Voorbeelde
Gelykenisse, Jona, Noag en die tuin
Ons het nou ’n bietjie gesels oor stories en hoe hulle belangrike waarhede kan oordra. Maar die beste manier om dit te verstaan, is om na ’n paar voorbeelde in die Bybel te kyk.
Ons begin by Jesus se gelykenisse. Min mense sal daaroor stry dat Jesus ’n meesterstorieverteller was. Wanneer Hy iets belangriks oor God of die lewe wou sê, het Hy dikwels ’n storie vertel. Ons noem hierdie stories gelykenisse.
Niemand vra gewoonlik of die gebeure in Jesus se gelykenisse werklik plaasgevind het nie. Ons verstaan dat Hy stories vertel het om iets belangriks oor te dra. Die waarheid van die gelykenis lê in wat die verhaal vir ons wil sê.
Maar wat van ander verhale in die Bybel? Kan ons hulle ook so lees?
Dit bring ons by drie bekende Bybelverhale waaroor mense soms verskil. Ek dink hierdie verhale maak baie meer sin wanneer ons hulle as stories lees.
Ons gaan kyk na Jona, Noag en die ark (Genesis 6–9) en die skeppings- en tuinverhale (Genesis 1–3).
Kom ons kyk wat gebeur wanneer ons hierdie verhale as stories begin lees.
In Deel 7 begin ons by die gelykenisse, Jona en Noag. Die skeppings- en tuinverhale kom later aan die beurt.
’n Storie hoef nie werklik te gebeur het om iets waar te sê nie.
James Kirkpatrick
Hou al drie kontakpunte vas: die teks, die geskiedenis en jouself as leser.
Die reeks
Op pad na helderheid
- 1Deel 1 · Die Bybel, ’n kompas in ’n ingewikkelde wêreldWaarom leer ons om die Bybel te lees?
- 2Deel 2 · Ses lesse in kompasleesDie groter prentjie, en wat op die pad voorlê.
- 3Deel 3 · Kom, laat ons van harte dinkTussenstuk: net voor ons met Afleer 1 begin.
- 4Deel 4 · Afleer 1 · Wat die Bybel nie is nieDie eerste afleersessie.
- 5Deel 5 · Afleer 2 · God se Woord, nie God se woorde nieDie tweede afleersessie.
- 6Deel 6 · Aanleer 1a · Die driepuntgreepDie teks, die geskiedenis en die leser, en verteltekste. Jy is hier.
- 7Volgende: Deel 7 · Aanleer 1b · Stories met ’n bedoelingGelykenisse, Jona, en Noag en die ark.
- 8Deel 8 · Aanleer 2 · Poësie en nog watPsalms, Jesaja 35, geslagsregisters en die profete.
Neem dit saam
Laai die boekie af om op jou foon te lees of om uit te deel. Die drukweergawe pas op A4 en vou in die middel tot ’n A5-boekie.