Afleer 2
God se Woord, nie God se woorde nie
Wat bedoel ons as ons sê die Bybel is die Woord van God? Drie Bybels, drie flaters, en ’n paar teenstrydighede.
Een · Bybel as Woord van God
Die Bybel is die Woord van God
Die Bybel is die Woord van God. Dit is een van die bekendste antwoorde wat Christene gee wanneer hulle gevra word wat die Bybel is.
Moslems sê iets soortgelyks van die Koran. Die vergelyking tussen wat Moslems van die Koran glo en wat Christene van die Bybel glo, is besonder interessant.
Volgens die tradisionele Islamitiese verstaan het God sy woorde deur die engel Gabriël (Jibrīl) aan die profeet Mohammed geopenbaar. Hierdie openbarings het oor ongeveer 23 jaar plaasgevind (610–632 n.C.).
Mohammed het dit mondelings aan sy volgelinge oorgedra. Hulle het die woorde gememoriseer en gedeeltes daarvan neergeskryf. Ná Mohammed se dood is die openbarings in ’n gesaghebbende teksversameling saamgebring.
Soos onder Christene, bestaan daar ook onder Moslems verskillende opvattings oor hulle heilige boek.
Volgens die tradisionele Islamitiese geloof is die Koran letterlik die Arabiese woorde wat Mohammed deur die engel Gabriël van Allah (God) ontvang het. Die Koran word daarom as ’n heilige boek beskou. Die besondere eerbied waarmee Moslems die boek hanteer, gee uitdrukking aan hierdie oortuiging.
So sal sommige Moslems byvoorbeeld die Koran op die hoogste rak in hulle huis plaas as ’n teken van respek vir die boek en die woorde wat daarin staan.
Maar is dit wat Christene bedoel wanneer hulle sê dat die Bybel die Woord van God is? Verstaan ons die Bybel op dieselfde manier as wat Moslems die Koran verstaan?
Wat bedoel Christene nou eintlik met die bekende uitdrukking: “Die Bybel is die Woord van God”?
Drie heilige boeke
Torah, Koran en Bybel
ChatGPT gee hierdie handige grafiese voorstelling van die verskille tussen Jode, Moslems en Christene se sienings van hulle heilige boeke, wat volgens hulle op die een of ander manier van God af kom.
| Vraag | TorahOrtodokse Judaïsme | KoranTradisionele Islam | BybelModerne histories-bewuste Christelike benaderings |
|---|---|---|---|
| Oorsprong | Goddelike openbaring aan Moses | Goddelike openbaring aan Mohammed | Goddelike openbaring wat deur menslike getuienis bemiddel word |
| Menslike rol | Moses ontvang die Torah | Mohammed ontvang en verkondig die Koran | Skrywers getuig vanuit hulle historiese omstandighede |
| Woordelikse openbaring | Tradisioneel sterk beklemtoon | Baie sterk beklemtoon | Nie noodwendig nie |
| Historiese ontwikkeling | Klassieke standpunt beperk menslike outeurskap | Tradisionele standpunt beklemtoon goddelike oorsprong | Word algemeen erken |
| Interpretasie | Sentrale rol van rabbynse uitleg (Misjna, Talmoed, Midrasj) | Sentrale rol van tafsīr (Koraninterpretasie-tradisie) | Sentrale rol van hermeneutiek |
| Heiligheid van die fisiese boek | Besondere eerbied vir Torahrolle (Sefer Torah) | Besondere eerbied vir die Koran | Verskil tussen tradisies |
Die eiesoortigheid van die Christelike verstaan van die Bybel kom duidelik hieruit na vore.
’n Mens kan egter nie ontken dat daar ook fundamentalistiese Christene is wat baie soos tradisionele Jode en Moslems oor hulle heilige boek dink nie.
In hierdie Kompas-reeks gaan ons beslis nie op ’n fundamentalistiese manier met die Bybel werk nie. As dit tot nou toe jou manier was om die Bybel te verstaan en te lees, is dit een van die dinge wat jy sal moet afleer.
God se Woord
Woord, nie woorde nie
Die Bybel is die Woord van God. Hierdie sinnetjie beteken nie vir almal presies dieselfde nie.
Vir sommige mense beteken dit dat die Bybel as ’t ware in die hemel gemaak en op aarde afgelewer is. Die Bybel is God se Woord, en die mens ontvang dit bloot. Hierdie siening is baie naby aan die tradisionele verstaan van die Koran en die Tora, soos ons in die vorige skema gesien het.
Daar was ook pogings om dit ’n bietjie meer genuanseerd te stel: Die Bybel is die Woord van God in mensetaal. Dit beteken dat die Bybel van God kom, maar dat mense ook volledig by die ontstaan daarvan betrokke was.
’n Derde poging beklemtoon die rol van die mens nog sterker: Die Bybel bevat geïnspireerde woorde oor God. Volgens hierdie siening het mense oor God nagedink en geskryf, en is hulle deur die Heilige Gees geïnspireer.
Persoonlik dink ek nie een van hierdie drie verklarings is heeltemal bevredigend nie. Ons sal op ’n ander manier moet dink oor wat dit beteken wanneer ons sê dat die Bybel die Woord van God is.
Een van die interessante dinge is dat die kerk van die Bybel as die Woord van God praat en nie as die woorde van God nie. Vergelyk dit met die Koran, wat volgens die tradisionele Islamitiese geloof die presiese Arabiese woorde is wat God deur die engel Gabriël aan Mohammed geopenbaar het.
Daar is dus ’n belangrike verskil tussen God se Woord en God se woorde.
Wanneer ons die Bybel die Woord van God noem, bedoel ons nie noodwendig dat dit ’n versameling woorde is wat God self uitgespreek het nie.
Maar wat beteken die uitdrukking Woord van God dan? Daar is twee moontlikhede.
Die eerste is dat dit eenvoudig die kerk se manier is om te sê dat die Bybel ons gesaghebbende boek is. In hierdie ou geskrifte, wat oor baie eeue ontstaan het en oorgelewer is, vind die kerk die rigting wat ons nodig het vir ons geloof en lewe. Daarom aanvaar ons die Bybel as ons gesagsboek.
Maar daar is ook ’n ander moontlikheid wat ek graag met jou wil deel.
Wat bedoel ons?
Jesus is die Woord van God
In die Christelike teologie is daar ’n belangrike onderskeid tussen die Bybel as die Woord van God en Jesus Christus as die Woord van God.
Volgens hierdie siening is Jesus die Woord van God in die diepste betekenis van die uitdrukking.
Dink maar aan die eerste hoofstuk van die Johannesevangelie: “In die begin was die Woord, en die Woord was self God.” ’n Paar verse later lees ons: “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon.”
Die verwysing is na Jesus Christus. Hy het nie bloot ’n boodskap van God gebring nie. In Hom het God Homself aan mense bekend gemaak.
Ons kry dieselfde gedagte aan die begin van die Hebreërbrief. Vroeër het God op baie maniere deur die profete gepraat, maar nou het Hy deur sy Seun met ons gepraat. Jesus is dus nie bloot nog ’n profeet wat namens God praat nie. In Hom kom God se openbaring op ’n besondere en beslissende manier na ons toe.
Twee bekende teoloë, Karl Barth en Emil Brunner, het hierdie gedagte sterk beklemtoon. Vir hulle staan Jesus Christus sentraal in God se openbaring. Die Bybel is nie op dieselfde manier die Woord van God as wat Jesus dit is nie. Die Bybel getuig van God se openbaring, wat in Jesus Christus sy hoogtepunt bereik.
“From Him (Jesus) alone it may and will be experienced what the Word of God is.”
Karl Barth
“The true Word of God is not the Bible but Jesus Christ.”
Emil Brunner, The Word of God and Modern Man, 1964
Dit beteken dat ons die Bybel nie met God se openbaring self moet vereenselwig nie.
Die Bybel wys ons na Jesus Christus, die lewende Woord van God.
Dit is vir my ’n meer geloofwaardige manier om die uitdrukking Woord van God te verstaan.
Twee · Drie tradisies en drie Bybels
Drie tradisies
Baie mense het ’n eenvoudige, soms naïewe siening van die Bybel. As jy ’n Protestant is, aanvaar jy waarskynlik dat die Bybel uit 66 boeke bestaan. Maar as jy ’n Katoliek is, bevat jou Bybel nog ’n paar boeke wat ons die Deuterokanonieke boeke noem.
In die Ortodokse kerke raak dit nog interessanter. Hulle Bybels bevat gewoonlik nog meer boeke, en ikone speel ook ’n belangrike rol in hulle geloofslewe. Hierdie ikone word op ’n besondere manier as uitdrukkings van God se boodskap verstaan.
Ons gaan nou kyk na ’n paar feite wat wys dat daar nie net een vaste versameling Bybelboeke is wat deur alle Christene aanvaar word nie. Daarna gaan ons vra wat dit beteken vir die manier waarop ons oor die Bybel dink.
Die volgende grafiese voorstelling is belangrik. Dit wys hoe die Christendom wêreldwyd saamgestel is.
Die grootste groep Christene is Katolieke. Hulle maak ongeveer 50% van alle Christene uit. Dan volg die Protestante met sowat 36–37%.
Onthou net dat die Protestante uit ’n groot verskeidenheid kerke bestaan, en nie net uit Gereformeerde kerke nie.
Die derde groep is die Ortodokse Christene, wat ongeveer 12% uitmaak. Daar is ook nog ’n paar kleiner groepe.
Ons het dus drie groot tradisies binne die Christendom wat almal bely dat hulle volgelinge van Jesus Christus is.
Wat ons nou gaan sien, is dat elkeen van hierdie drie tradisies sy eie versameling Bybelboeke het. Ek wonder wat jy daarvan dink.
Pew Research Center, Global Christianity, Desember 2011
Drie kanons
Drie tradisies en drie Bybels
Die een Jesus-beweging van die eerste eeu na Christus het toe mettertyd verskillende paaie begin loop.
Ook wat die Bybel betref, het die Katolieke, die Ortodokses en die Protestante nie presies dieselfde Bybel nie. Dit is by die Ou Testament waar die groot verskille lê.
Dit laat ons met die vraag hoe hierdie verskillende kanons (Bybels) ons siening van wat die Bybel is, beïnvloed.
Jou vriend wat ’n gelowige uit die Katolieke tradisie is, se Bybel is groter as jou Protestantse Bybel, maar kleiner as sy kollega uit die Grieks-Ortodokse kerk s’n.
Dit bevestig dat ons die Bybel uit die hand van die geskiedenis kry en nie uit die hemel nie.
Gesagsbeskouing
Watter implikasies?
Watter implikasies het die bestaan van die verskillende kanons in die onderskeie Christelike tradisies vir ons gesagsbeskouing?
As jy nog altyd gedink het dat God die woorde van die Bybel aan mense gegee het en dat hulle dit net neergeskryf het, laat hierdie inligting jou dalk met ’n paar nuwe vrae.
Waarom het die verskillende Christelike tradisies dan nie almal dieselfde Bybelboeke nie?
Dit beteken natuurlik nie dat God minder met Protestante en meer met Katolieke of Ortodokse Christene gepraat het nie. Dit wys eerder dat mense en kerke deur die geskiedenis ’n belangrike rol gespeel het in die proses waardeur die Bybel sy huidige vorm gekry het.
Dink ’n bietjie hieroor na: Wat beteken dit vir ons verstaan van die Bybel dat die verskillende Christelike tradisies nie almal dieselfde Bybelboeke het nie?
Dit kan nogal ’n interessante gesprek met ander Christene en vriende oplewer.
Drie · Drie flaters wat ons maak
Letterlik en figuurlik
Ons almal het sekere idees oor die interpretasie van die Bybel wat ons dalk sal moet afleer. Daarom sluit ek hierdie tweede deel van die afleerfase af met drie algemene foute wat ons maak wanneer ons die Bybel lees. Dit is drie maniere van Bybellees wat ons maklik op die verkeerde spoor bring.
Mense sê dikwels: “Ek het nie teologie gestudeer nie. Jy kan nie van my verwag om die Bybel op hierdie manier te lees nie. Ek lees hom maar soos ek hom verstaan.”
Maar eintlik weet ons almal reeds heelwat wat ons kan help om die Bybel verantwoordelik te lees. Jy hoef nie jare lank teologie te studeer om dit te kan doen nie.
Kom ons begin met iets wat jy waarskynlik al op laerskool geleer het: die verskil tussen letterlike en figuurlike taal. Hier is twee voorbeelde:
Daar is ’n slang in die gras in die wildtuin. En daar is ’n slang in die gras by Eskom se hoofkantoor.
Jy hoef nie ses jaar teologie te studeer om te weet dat die een letterlik en die ander een figuurlik bedoel word nie!
Nog ’n voorbeeld: Vandag is Maandag en die lug is blou. Maar as ek sê dit is ’n blou Maandag, bedoel ek iets heeltemal anders.
Ons almal verstaan dit sommer vanself.
Die punt is eenvoudig: Taal kan letterlik of figuurlik bedoel word. En juis hier maak ons soms foute wanneer ons die Bybel lees.
Kom ons kyk na drie van hierdie foute, een vir een.
1Flater 1
Figuurlike taal wat letterlik verstaan word
Flater nommer een: Ons lees figuurlike taal letterlik.
Die Bybel gebruik dikwels figuurlike taal. Tog aanvaar baie mense dat alles in die Bybel letterlik verstaan moet word. Dan lees hulle sekere tekste verkeerd en mis hulle wat die skrywers eintlik wou sê.
Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde. Ons gaan hulle nie nou bespreek nie, want ons kom later in hierdie reeks weer by die meeste van hulle uit.
Die skeppingsverhale. Baie mense lees die skeppingsverhale asof dit presies beskryf hoe die wêreld ontstaan het. Hulle redeneer dat God alles in ses dae geskep het en dat die aarde daarom ongeveer 6 000 jaar oud is.
Maar Genesis 1 het die kenmerke van ’n loflied met ’n besondere literêre struktuur. Dit wil iets oor God en die skepping sê, eerder as om ’n wetenskaplike beskrywing van die ontstaan van die wêreld te gee.
Noag se verhaal. Dit is ’n aangrypende verhaal van oordeel, redding en hoop. Die verhaal gebruik beelde en verteltegnieke om iets belangriks oor God en die mens te sê.
Dit is nie bedoel om soos ’n moderne verslag van ’n vloedramp gelees te word nie. Ons kom later weer hierby uit.
Bileam se donkie. Hoe op aarde kan ’n donkie praat? Ons weet mos donkies kan nie praat nie!
Maar in verhale soos fabels kan diere praat. Die pratende donkie speel ’n besondere rol in hierdie Bybelverhaal.
Die bome wat ’n koning kies. In Rigters 9 lees ons van bome wat bymekaarkom om vir hulle ’n koning te kies. Hulle praat met mekaar en probeer besluit wie hulle koning moet wees.
Natuurlik is dit nie ’n letterlike gebeurtenis nie. Dit is ’n fabel wat iets oor leierskap en mag wil sê.
Die slang in die tuin van Eden. In Genesis 3 lees ons van ’n slang wat met Eva praat. Die slang word as ’n besondere, listige dier voorgestel. Die verhaal gebruik die slang om iets oor die mens, versoeking en ongehoorsaamheid te sê.
Die teks self identifiseer nie die slang met die duiwel nie. Daardie verbinding het later in die Joodse en Christelike tradisies ontwikkel. Ons gaan ook nog ’n paar keer oor hierdie verhaal praat.
Al hierdie voorbeelde wys hoe belangrik dit is om raak te sien watter soort taal en verhaal ons lees.
Wanneer ons figuurlike taal letterlik lees, loop ons die gevaar om die betekenis van die teks heeltemal mis te verstaan.
2Flater 2
Letterlik wat vergeestelik word
Jy kan ook die fout maak deur ’n teks wat heel letterlik verstaan wil word, te vergeestelik deur dit op ’n nie-letterlike vlak te lees.
In Psalm 137:9 is iemand aan die woord wat baie kwaad vir die Babiloniërs is. Hy verwens hulle op so ’n wyse dat ’n mens verleë oor sy woorde is.
Origenes het die probleem probeer oplos deur die teks nie-letterlik te verstaan. Vir hom het die babatjies se koppe wat teen die rots verbrysel moet word, gedui op ons sondes. En die rots is Christus.
Klink mooi, maar is dit wat die teks wou sê?
Vir lank is die boek Hooglied ook as allegorie gelees: Dit gaan eintlik om die verhouding tussen Christus en sy bruid, die kerk.
Toe ek op ’n dag Hooglied by ’n Bybelskool aanbied en dit lees as ’n bundel erotiese liefdesliedere, was ’n 70-jarige dame baie ontsteld. Haar reaksie:
“Hoekom moet ek dit nou eers hoor?! Daar is dit sowaar alles in die Bybel. Step by step!”
3Flater 3
Letterlik wat letterlik toegepas word
Die volgende flater is ’n bietjie moeiliker en word later in hierdie gespreksreeks ook weer deeglik bespreek.
Dit is wanneer daar tekste in die Bybel staan wat letterlik bedoel is (wat daar staan, is wat die oorspronklike skrywer so bedoel het), maar omdat dit uit ’n wêreld kom wat totaal anders is as die wêreld waarin ons leef, is dit ’n fout, ’n flater, om daardie teks net so na ons wêreld oor te plaas.
Hier volg nou ’n hele reeks voorbeelde wat elkeen op sy eie manier verduidelik wat die probleem is. Letterlik, sonder vertolking, staan daar…
Voorbeelde uit die Ou Testament
Die sewende dag van die week moet ’n gewyde dag wees. Dit is ’n rusdag tot eer van die Here. Elkeen wat op dié dag werk, moet doodgemaak word. Jy mag ook nie op die rusdag vuur maak nie.
Eksodus 35:2–3
Dit is verbode om ’n waterdier te eet wat nie vinne en skubbe het nie. Kreef en garnale mag dus nie geëet word nie.
Levitikus 11:9–10
As ’n priester se dogter haar ontwy deur te hoereer, ontwy sy ook haar pa, en moet sy daarom verbrand word.
Levitikus 21:9
’n Voorbeeld uit die Nuwe Testament
Soos in al die Christelike gemeentes moet die vrouens ook in julle byeenkomste stilbly, want hulle word nie toegelaat om te praat nie. Hulle moet onderdanig wees, soos die wet ook sê. As hulle iets te wete wil kom, moet hulle tuis hulle eie mans vra, want dit is lelik vir ’n vrou om in die erediens te praat.
1 Korintiërs 14:34–35
Vier · Teenstrydighede in die Bybel?
Teenstrydighede in die Bybel
Die Bybel is betroubaar. As boek wat ons lewe rig, is dit onontbeerlik.
Dit beteken nie dat die Bybel soos ’n stuk propaganda orals mooi netjies klop nie. As boek wat uit die geskiedenis kom, dra dit verskillende perspektiewe en kom daar historiese en ander foute voor.
Wat hier volg, is ’n paar voorbeelde van teenstrydighede in die Bybel.
- Diere is vóór die eerste mens geskep Gen. 1:24–27Diere is ná die eerste mens geskep Gen. 2:18–19
- Kain is gedoem om ewig te swerf Gen. 4:12Kain bou ’n stad Gen. 4:17
- Die vloed het 40 dae geduur Gen. 7:17Die vloed het 150 dae geduur Gen. 7:24
- God keur Jehu se bloedbad goed 2 Kon. 10:30God vind Jehu se bloedbad gruwelik Hos. 1:4
- Taanag en Dor word verslaan Jos. 12:21, 23Israel kry niks reg teen Taanag en Dor nie Jos. 17:11–12
- Moses was ’n sagmoedige mens Num. 12:3Moses was ’n wrede man Num. 31:15, 17
Die implikasie daarvan moet deurdink word.
Terugblik
Kom ons staan terug
Kom ons staan terug en evalueer dit wat ons tot hiertoe gedoen het. Wat was jou belewenis daarvan?
Kies wat vir jou waar is. Meer as een mag.
Jou keuses bly net op hierdie toestel.
Wat jy nou hier sê, gaan ons help met die aanpak daarvan wat voorlê.
Ons kry die Bybel uit die hand van die geskiedenis en nie uit die hemel nie.
James Kirkpatrick
Die Bybel wys ons na Jesus Christus, die lewende Woord van God.
Die reeks
Op pad na helderheid
- 1Deel 1 · Die Bybel, ’n kompas in ’n ingewikkelde wêreldWaarom leer ons om die Bybel te lees?
- 2Deel 2 · Ses lesse in kompasleesDie groter prentjie, en wat op die pad voorlê.
- 3Deel 3 · Kom, laat ons van harte dinkTussenstuk: net voor ons met Afleer 1 begin.
- 4Deel 4 · Afleer 1 · Wat die Bybel nie is nieDie eerste afleersessie.
- 5Deel 5 · Afleer 2 · God se Woord, nie God se woorde nieDie tweede afleersessie. Jy is hier.
- 6Volgende: Deel 6 · Aanleer 1a · Die driepuntgreepDie teks, die geskiedenis en die leser, en verteltekste.
- 7Deel 7 · Aanleer 1b · Stories met ’n bedoelingGelykenisse, Jona, en Noag en die ark.
- 8Deel 8 · Aanleer 2 · Poësie en nog watPsalms, Jesaja 35, geslagsregisters en die profete.
Neem dit saam
Laai die boekie af om op jou foon te lees of om uit te deel. Die drukweergawe pas op A4 en vou in die middel tot ’n A5-boekie.