Op pad na helderheid

Aanleer 2

Poësie en nog wat

Die Bybel se gedigte, sy lang lyste name, en die profete se prentjies van ’n ander toekoms. Jy hoef nie ’n teoloog te wees om dit te lees nie.

blaai af om te begin

Poësie

’n Ander soort boek

Tot dusver het ons aandag gegee aan verhalende tekste. Dit is tekste wat deur middel van verhale ’n boodskap aan ons oordra.

Ons het nie al die verskillende soorte verhalende tekste bespreek nie. Ons het hoofsaaklik gekyk na verhale met ’n fiktiewe karakter, soos die gelykenisse van Jesus en die verhale van Jona en Noag. Daar is natuurlik ook verhale wat baie nader aan historiese gebeure lê, soos dié oor die konings van Israel.

Verhalende tekste beslaan ongeveer 40% van die Bybel. Die ander groot groep is poëtiese tekste, met ander woorde gedigte. Na beraming is 30% van die tekste poëties van aard. Saam beslaan verhalende en poëtiese tekste dus ongeveer 70% van die Bybel.

Dit beteken dat ons reeds ’n groot deel van die Bybel beter sal kan verstaan as ons leer hoe om hierdie twee soorte tekste te lees.

Jy het die boek met al die verhale klaar gelees en betyds by die biblioteek terugbesorg. Nou is jy lus vir iets anders. Jy haal ’n boek van die rak af wat sommer met die eerste oogopslag anders lyk. Dit is nie ’n storie nie. Jy kan reeds aan die manier waarop die teks op die bladsy gedruk is, sien dat dit ’n ander soort teks is. Ons praat van poësie, of gedigte.

Poësie beslaan ’n groot deel van die Bybel, veral die Ou Testament. Maar ook in die Nuwe Testament kry ons lofliedere wat as poësie beskou kan word.

Ons het vroeër gepraat oor mense wat meen dat net teoloë die Bybel verantwoordelik kan lees en verstaan. Maar ook wanneer dit by poësie kom, ontdek ons dat gewone mense met ’n bietjie gesonde verstand die Bybel verantwoordelik kan lees.

Ek het onlangs my kleindogter gehelp om ’n gedig te ontleed wat hulle in graad agt behandel het. Toe ons klaar was, het ek besef dat daardie gedig eintlik moeiliker was om te verstaan as baie van die gedigte in die Ou Testament!

Ook hierdie groot deel van die Bybel is vir jou toeganklik. Jy hoef nie ’n teoloog te wees om Bybelse gedigte te verstaan nie. Jy moet net van die basiese dinge wat jy op skool oor gedigte geleer het, weer toepas.

Hoe lees ons ’n gedig?

Sewe kenmerke van Hebreeuse poësie

Maar daar is tog ’n vangplek. Hebreeuse poësie werk in sekere opsigte anders as die Afrikaanse gedigte wat ons ken. Kom ons kyk na ’n paar kenmerke.

1 · Ryk taal en beeldspraak

Hebreeuse poësie gebruik ryk taal, beeldspraak en ritme om ’n boodskap oor te dra. Hierin verskil dit nie veel van Afrikaanse poësie nie. Woorde word sorgvuldig gekies om gedagtes en gevoelens op ’n besondere manier uit te druk.

2 · Poësie is dikwels tydloos

Dit beteken nie dat gedigte nie die spore van hulle tyd dra nie. Maar anders as by baie ander Bybeltekste, is dit dikwels moeilik om te bepaal presies wanneer en onder watter omstandighede ’n psalm ontstaan het.

Ons weet wel dat baie van die psalms in Israel se eredienste gebruik is. Dit gee ons reeds ’n belangrike leidraad oor hulle agtergrond.

Juis omdat die historiese omstandighede nie altyd duidelik is nie, kan mense uit verskillende tye hulle eie ervarings in hierdie gedigte herken.

3 · Die struktuur is belangrik

Soos by Afrikaanse gedigte speel die struktuur van Hebreeuse poësie ’n belangrike rol. Die manier waarop die verskillende dele van ’n gedig saamgestel is, help ons om die boodskap te verstaan. Ons sal later aan die hand van ’n voorbeeld sien hoe belangrik dit kan wees.

4 · Herhaling en parallelisme

Een van die belangrikste kenmerke van Hebreeuse poësie is parallelisme. Jy herken sommer die woord “parallel” daarin. Waar Afrikaanse gedigte dikwels van eindrym gebruik maak, werk Hebreeuse poësie veral met parallelle versreëls.

Dit beteken dat twee opeenvolgende reëls op ’n besondere manier met mekaar verband hou. Die tweede reël kan die eerste gedagte herhaal of versterk, maar dit kan ook iets nuuts byvoeg of selfs ’n teenstelling uitdruk.

Parallelisme is dus meer as bloot herhaling. Dit is ’n manier waarop die digter gedagtes ontwikkel, beklemtoon en met mekaar in verband bring.

5 · Ritme en klank

Ritme en klank speel ook ’n belangrike rol in Hebreeuse poësie. Ongelukkig gaan baie daarvan verlore wanneer die gedigte vertaal word.

Dink byvoorbeeld aan die klaagliedere. Sommige daarvan gebruik kenmerkende ritmiese patrone, soos die sogenaamde qina-ritme, wat met hartseer en verlies verbind word. Dit herinner aan die melancholiese klank wat ons soms in Skotse en Ierse musiek hoor. Selfs sonder dat jy elke woord verstaan, kan die musiek iets van die hartseer oordra.

Ons moet egter onthou dat ons nie presies weet hoe die oorspronklike Hebreeuse gedigte voorgedra of gesing is nie. Daarom kan ons nie met sekerheid sê hoe die ritme en klank destyds ervaar is nie.

6 · Poësie in die erediens

Baie van die psalms het ’n belangrike plek in Israel se erediens gehad. Dit was nie bloot gedigte wat mense gelees het nie. Dit was ook liedere en gebede waarmee hulle God geloof het, hulle nood uitgespreek het en hulle geloof bely het.

7 · Poësie gaan oor mense se ervarings

Dit is miskien een van die belangrikste dinge om te onthou: Die Psalms is ervaringstekste. Hier praat mense oor wat hulle beleef. Dit gaan oor hartsake, nie net oor kennis en verstand nie. Daarom kry ons soveel emosie in die Psalms: vreugde, dankbaarheid, vrees, woede, twyfel, hartseer en hoop.

Die digters probeer nie bloot verduidelik wat hulle van God weet nie. Hulle verwoord hoe hulle die lewe en hulle verhouding met God ervaar. En dit is juis waarom hierdie eeue oue gedigte vandag nog so sterk tot ons spreek.

Psalm 8

’n Vraag wat elke Suid-Afrikaner moet antwoord

Kom ons spring sommer aan die diep kant in en kyk na een van die gedigte in die Bybel: Psalm 8. Maar jy sal gou agterkom dat dit eintlik nie so diep is nie. As jy eers ingespring het, is dit heelwat makliker om te swem as wat jy gedink het!

Ek is by geleentheid gevra om met ’n groep hoërskoolleerders oor rassisme te praat. Ek het besluit om Psalm 8 te gebruik en het vir my aanbieding die opskrif gekies: ’n Vraag wat elke Suid-Afrikaner moet antwoord.

Waarom juis Psalm 8? Omdat hierdie gedig oor menswaardigheid gaan. Dit help ons om ’n baie belangrike vraag te beantwoord: Wat beteken dit om mens te wees? Ons begin by die struktuur, want die struktuur van ’n gedig help ons om die betekenis daarvan te verstaan.

1 · Die raam rondom die gedig

Kyk na vers 2 en vers 10. Albei sê dieselfde:

Here, ons Here, hoe heerlik is u Naam op die hele aarde!

Psalm 8:2 en 8:10

Die gedig begin en eindig dus met dieselfde woorde. Ons kan sê dat die digter ’n raam rondom die gedig geplaas het.

Dink aan ’n skildery wat klaar geskilder is en teen ’n muur staan en wag om geraam te word. Dan kom iemand wat weet wat hy doen en plaas die skildery in ’n geskikte raam. Skielik lyk die skildery anders. Die raam help om die betekenis en skoonheid daarvan na vore te bring. Dit is presies wat die raam van Psalm 8 doen.

Die gedig gaan oor die mens, maar die raam gaan oor die grootheid en heerlikheid van God.

Ons kan dus nie oor menswees praat sonder om ook oor die mens se verhouding met God te praat nie. Dit is die eerste belangrike leidraad wat die struktuur van die gedig vir ons gee.

2 · Die kleinheid van die mens

Humilitas

Kyk nou na die tweede helfte van vers 2 tot by vers 5. Hier val die klem op die kleinheid van die mens teenoor die grootheid van God.

Die digter kyk na die hemel, die maan en die sterre. Teenoor hierdie indrukwekkende skepping lyk die mens maar klein en nietig. Dan vra hy in vers 5:

Wat is die mens dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?

Psalm 8:5

Dit is ’n retoriese vraag. Die digter verwag nie regtig ’n antwoord nie. Hy wil ons laat nadink oor hoe klein die mens teenoor die grootheid van God is.

Ons kan hierdie eerste deel van die gedig met een Latynse woord saamvat: humilitas. Jy herken die Engelse woord humility daarin. Dit beteken nederigheid.

Die mens is klein. Ons is nie die middelpunt van die heelal nie. Teenoor die grootheid van God behoort ons nederig te wees.

Humility is not thinking less of yourself, it is thinking of yourself less.

Dikwels aan C. S. Lewis toegeskryf

Nederigheid beteken nie dat jy minder van jouself dink nie, maar dat jy minder aan jouself dink.

3 · Van vers 5 na vers 6

Die verrassende wending

Nou kom ons by die belangrikste oomblik in die gedig. Let op hoe kunstig die digter vers 5 en vers 6 langs mekaar plaas.

In vers 5 vra hy: Wat is die mens dat U aan hom dink? Dink aan wat ons tot dusver gelees het. Die digter het die grootheid van die hemel, die maan en die sterre beskryf. Teenoor hierdie indrukwekkende skepping lyk die mens onbeduidend.

Watter antwoord verwag jy nou op die vraag in vers 5? Waarskynlik iets soos: Die mens is eintlik niks! Hy is klein en nietig.

Maar dan kom vers 6 met ’n totaal onverwagte antwoord!

U het hom ’n weinig minder as ’n goddelike wese gemaak en hom met eer en heerlikheid gekroon.

Psalm 8:6

Hoor jy hoe verrassend dit is? Die digter vra hoe dit moontlik is dat God enigsins aan so ’n klein mensie dink. Maar in plaas daarvan om die mens se nietigheid te beklemtoon, vertel hy van die besondere waardigheid wat God aan die mens gegee het.

Die mens is klein, maar nie minderwaardig nie! Dit is die verrassende wending in die gedig.

En dit is juis hier waar ons sien hoe belangrik die struktuur van ’n gedig is. Die digter plaas twee oënskynlik teenstrydige gedagtes direk langs mekaar om sy boodskap sterker na vore te bring.

4 · Die waardigheid van die mens

Dignitas

Vanaf vers 6 tot 9 verander die toon van die gedig heeltemal. Nou gaan dit oor die besondere plek wat God aan die mens in die skepping gegee het.

Die Hebreeuse woord wat in vers 6 gebruik word, is elohim. Dit kan na God of goddelike wesens verwys. Daarom verskil Bybelvertalings oor die presiese weergawe daarvan. Maar die boodskap is duidelik: God het die mens met eer en heerlikheid gekroon. Die mens kry selfs die verantwoordelikheid om oor die werke van God se hande te heers.

Ons kan hierdie tweede deel van die gedig met ’n ander Latynse woord saamvat: dignitas. Jy herken die Engelse woord dignity daarin. Dit beteken waardigheid.

Things have a price and can be for sale, but people have a dignity that is priceless and worth far more than things.

Pous Franciskus

Dinge het ’n prys en kan verkoop word, maar mense het ’n waardigheid wat onbetaalbaar is en baie meer werd as dinge.

Die mens is klein teenoor die grootheid van God, maar terselfdertyd besonder kosbaar. Hierdie twee gedagtes hoort bymekaar:

  • Humilitasdie kleinheid van die mens
  • Dignitasdie waardigheid van die mens

5 · Wat beteken dit vir Suid-Afrika?

Op ooghoogte

Nou verstaan jy dalk waarom ek juis Psalm 8 gekies het om met jongmense oor rassisme te praat. Hierdie gedig leer ons twee belangrike waarhede oor menswees.

Humilitas: ek is klein. Ek is nie belangriker as ander mense nie. Ek het geen rede om op iemand anders neer te kyk nie.

Dignitas: ek het waardigheid. God het aan my waarde gegee. Daarom hoef ek nie te aanvaar dat ander mense my as minderwaardig behandel nie.

Maar wat vir my geld, geld natuurlik ook vir elke ander mens. Elke mens het waardigheid, ongeag ras, kleur, taal of herkoms.

As ek my eie humilitas verstaan, kan ek nie dink ek is beter as ander mense nie. En as ek die dignitas van ander mense erken, kan ek hulle nie as minderwaardig behandel nie.

Dit is die besondere boodskap van Psalm 8. In net tien verse kry ons twee woorde wat ons kan help om anders oor onsself en ander mense te dink. En miskien is dit juis die twee dinge wat ons in Suid-Afrika nodig het om rassisme te oorwin.

Psalm 8 leer ons dat ons klein is voor God, maar dat elke mens terselfdertyd met waardigheid beklee is. Niemand het rede om op ’n ander mens neer te kyk nie.

Psalm 23

Herder en gasheer

Ons volgende voorbeeld is een van die bekendste gedigte in die Bybel: Psalm 23. Ons dink ons ken dit goed, maar wanneer ons dit van nader bekyk, ontdek ons dat daar meer in die gedig is as wat ons vermoed het.

Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is. Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam. Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.

Psalm 23:1–4

Psalm 23 is ’n troospsalm. Deur die eeue het mense vertel hoe hulle in moeilike tye, wanneer hulle bang of moedeloos was, hierdie psalm gelees en daarin troos gevind het. Jy hoef nie ’n teoloog te wees om die boodskap daarvan te verstaan nie. Die woorde spreek vanself tot ons.

1 · Twee beelde van God

Die psalm bestaan uit twee dele. In elke deel word ’n ander beeld van God gebruik. Die eerste beeld ken ons almal: “Die Here is my herder.” Hier word God voorgestel as ’n herder wat sy skape versorg, lei en beskerm. Maar in die tweede deel verander die beeld:

U laat my by ’n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos ’n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid. U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.

Psalm 23:5–6

Hier is God nie meer die herder nie, maar die gasheer wat sy gaste ontvang en versorg. Ons praat gewoonlik van Psalm 23 as die psalm van die goeie herder. Maar eintlik gebruik die digter twee beelde: God as herder en God as gasheer.

2 · Die herder en die koning

In die wêreld van die Ou Testament is die woord herder dikwels gebruik om na konings en ander leiers te verwys. Hulle moes soos goeie herders vir die mense onder hulle sorg. Ons kry dit byvoorbeeld in Esegiël 34, waar die leiers van Israel as slegte herders aangespreek word omdat hulle nie na die mense omsien nie.

En die gasheer? Konings het dikwels groot feesmaaltye aangebied. Om aan die koning se tafel te sit, kon ’n teken van sy guns en beskerming wees. Maar die beeld was nie net tot konings beperk nie. Gasvryheid was ’n belangrike deel van die destydse samelewing. ’n Gasheer moes sy gaste ontvang, versorg en beskerm.

Ons moet daarom versigtig wees om Psalm 23 sonder meer ’n koningspsalm te noem. Die psalm gebruik eerder bekende beelde uit die destydse wêreld om iets van God se sorg en beskerming te vertel.

3 · God sorg en beskerm

God is soos ’n herder wat sy skape na groen weivelde en rustige waters lei. Hy sorg vir hulle en beskerm hulle wanneer gevaar dreig. Maar God is ook soos ’n gasheer wat sy gaste aan sy tafel verwelkom. Selfs wanneer daar vyande teenwoordig is, kan hulle veilig aan sy tafel sit.

Albei beelde dra dieselfde boodskap oor: God sorg vir ons en beskerm ons. Dit help ons verstaan waarom hierdie psalm deur die eeue vir soveel mense troos gebring het.

Psalm 23 gaan nie net oor die herder nie, maar ook oor die gasheer wat ons aan sy tafel verwelkom.

Jesaja 35

’n Gedig in ’n profeteboek

Sommige tekste in die profeteboeke lyk soos preke. Daar is iemand wat praat, ’n gehoor wat luister en ’n bepaalde onderwerp waaroor gepraat word.

Maar ander tekste in die profeteboeke is weer poëties van aard. Ons gaan nou na een van hierdie gedigte kyk, naamlik Jesaja 35. Hoe weet ons dat ons hier met ’n gedig te doen het?

1 · Parallelisme

Onthou jy nog wat parallelisme beteken? Dink aan die twee spore van ’n treinspoor wat langs mekaar loop. Albei is nodig, anders kan die trein nie ry nie. So werk parallelisme ook. Twee versreëls loop as’t ware langs mekaar en help ons om die betekenis beter te verstaan.

Maar daar is ’n belangrike verskil: Die twee versreëls hoef nie dieselfde gedagte uit te druk nie. Die tweede reël kan die eerste herhaal, uitbrei of selfs die teenoorgestelde sê. Ons noem laasgenoemde ’n antitese. Selfs dan werk die twee reëls soos die twee spore van ’n treinspoor saam.

Kyk byvoorbeeld na Jesaja 35:3, waar die digter praat van slap hande en bewende knieë. Die twee beelde versterk mekaar en beskryf mense wat moedeloos en uitgeput is.

2 · Herhaling

Nog ’n kenmerk van hierdie gedig is herhaling. Woorde en gedagtes soos vreugde, jubel, woestyn en verlossing kom herhaaldelik voor. Hierdie herhaling is nie toevallig nie. Dit help die digter om die belangrikste gedagtes van die gedig te beklemtoon.

Wanneer ons die parallelismes en herhalings raaksien, begin ons reeds iets van die boodskap van Jesaja 35 verstaan.

Die beelde in Jesaja 35

Van woestyn tot blomtuin

Jesaja 35 is vol treffende beelde. Die digter gebruik dinge wat mense ken, soos ’n woestyn, water, blindheid en ’n pad, om ’n boodskap van hoop oor te dra. Die belangrikste is dat hierdie hoop uit vertroue op God gebore word.

1 · Die woestyn wat blom (verse 1–2)

Die digter beskryf ’n droë woestyn wat skielik begin blom en groen word. ’n Woestyn is gewoonlik ’n plek waar min lewe is. Dit kan daarom ’n beeld wees van mense se moeilike omstandighede, moedeloosheid en gebrek aan hoop. Maar nou begin die woestyn blom!

God kan nuwe lewe bring waar alles dood en sonder hoop lyk. Wat vandag onmoontlik lyk, kan deur God moontlik word.

2 · Slap hande en bewende knieë (verse 3–4)

Hier beskryf die digter mense met slap hande en bewende knieë. Dit is beelde van mense wat moeg, bang en moedeloos is. Hulle voel dat hulle nie meer die krag het om aan te gaan nie. Maar dan kom die oproep: Maak die hande sterk en die knieë stewig!

Let op die rede wat vers 4 gee: God kom om sy mense te red. Hulle moed berus dus nie op positiewe denke nie, maar op vertroue in God.

3 · Blindes, dowes en lammes (verse 5–6)

Die digter beskryf blindes wat weer kan sien, dowes wat kan hoor, lammes wat soos ’n wildsbok spring en mense wat nie kon praat nie, wat jubel. Wat voorheen nie moontlik was nie, word nou moontlik. God se verlossing bring herstel en nuwe moontlikhede.

Ons moet egter versigtig wees om hierdie beelde net as simbolies te verstaan. Dit kan ook die verwagting van werklike genesing uitdruk. Binne die gedig vorm dit deel van ’n groter prentjie van God se verlossing.

4 · Water wat deur die woestyn stroom (verse 6–7)

In ’n droë woestyn is water die verskil tussen lewe en dood. Nou beskryf die digter hoe water in die woestyn opborrel en droë grond in ’n waterryke gebied verander. God bring lewe waar daar voorheen geen lewe was nie.

Die digter wil hê dat mense moet besef dat hulle huidige omstandighede nie die laaste woord het nie.

5 · Die veilige pad deur die woestyn (verse 8–9)

Die digter beskryf ’n grootpad deur die woestyn. Dit is ’n veilige pad waarop God se verloste mense kan reis. Daar is nie gevaarlike roofdiere wat hulle bedreig nie. God maak ’n pad oop waar daar voorheen nie ’n pad was nie.

Hierdie beeld herinner aan Israel se uittog uit Egipte. Soos God destyds sy volk deur die woestyn gelei het, kan Hy hulle weer na ’n nuwe toekoms lei. Die pad is ’n beeld van God se leiding, beskerming en verlossing.

6 · Die mense wat sing en jubel (vers 10)

Die gedig eindig met mense wat terugkeer na Sion, dit wil sê Jerusalem. Hulle sing en jubel van vreugde. Hartseer en swaarkry verdwyn en maak plek vir blydskap.

Aan die begin lyk alles dood en sonder hoop. Aan die einde is daar lewe, vreugde en mense wat sing.

Die boodskap van Jesaja 35

Verbeelding en veerkragtigheid

Om Jesaja 35 goed te verstaan, moet ons ook iets weet van die wêreld waarin die teks ontstaan het.

Baie navorsers verbind Jesaja 35 met die tyd rondom die einde van die Babiloniese ballingskap of die tyd daarna. Dit was ’n tyd waarin baie mense moedeloos was en min hoop vir die toekoms gehad het. Die digter praat met mense wat, soos vers 3 sê, slap hande en bewende knieë het. Ons kan sy boodskap met twee woorde saamvat.

1 · Verbeelding

Die digter wil hê mense moet leer om anders oor hulle toekoms te dink. Hulle moet hulle ’n nuwe toekoms kan voorstel, selfs al lyk dit op die oomblik onmoontlik. Dit is wat die beelde van die woestyn wat blom en water wat deur die droë land stroom, wil sê. Wat ons vandag sien en beleef, is nie noodwendig die laaste woord nie.

Maar hierdie verbeelding is nie bloot positiewe denke nie. Dit kom uit mense se vertroue op God. Omdat hulle glo dat God hulle nie vergeet het nie en steeds kan ingryp, kan hulle verder kyk as hulle huidige omstandighede.

2 · Veerkragtigheid

Die tweede woord is veerkragtigheid, of die Engelse woord resilience. Dit beteken dat ’n mens nie moed opgee wanneer dinge moeilik raak nie. Jy probeer weer opstaan nadat jy geval het.

Maak die slap hande sterk en die bewende knieë stewig. Sê vir dié wat moed verloor het: Wees sterk, moenie bang wees nie! Kyk, hier is julle God!

Jesaja 35:3–4

Hulle hoef nie moed te skep omdat hulle dink alles sal vanself regkom nie. Hulle kan weer opstaan omdat hulle vertrou dat God by hulle is en sal optree, selfs wanneer hulle omstandighede nog nie verander het nie.

Vertroue op God maak verbeelding moontlik. Verbeelding help ons om ’n ander toekoms te sien. Veerkragtigheid help ons om aan te hou, selfs wanneer daardie toekoms nog nie werklikheid geword het nie.

Geslagsregisters

Die bladsye wat ons oorslaan

Toe ek ’n teologiese student was, het ons boeke gelees van ou teoloë wat op hulle beurt nog ou kerkvaders aangehaal het, en dan het hulle dit altyd in Latyn gedoen. Dit was nou maar die gebruik van daardie tyd.

As jy as teologiese student so ’n boek lees, is jy veronderstel om ook die Latynse deel te lees. Maar as jy net Latyn een gehad het, is jy regtig nie in staat om dit behoorlik te lees nie. Dan vat dit jou ure om net die Latyn te lees.

Wat in die praktyk gebeur het: As jy op ’n bladsy kyk en jy sien die helfte van die bladsy is in Latyn, dan is jy nogal dankbaar, want dit beteken dat jy net die helfte van die bladsy hoef te lees. Maar dan het jy in die proses natuurlik ook baie misgeloop.

Die geslagsregisters in die Bybel werk baie so. Ek kan my indink dat niemand regtig lus het om ’n klomp name na mekaar te lees nie.

Maar in die Bybel het die geslagsregisters ’n baie belangrike funksie. Daarom gaan ons nou aandag gee aan die betekenis van die geslagsregisters in die Ou en die Nuwe Testament.

Genesis

Genesis as geheel

Kom ons neem die boek Genesis; dan sal jy sien hoe interessant die goed aan mekaar gesit is. As jy na die geheel van die boek kyk, is nie alles in Genesis dieselfde soort literatuur nie.

Die eerste 11 hoofstukke van Genesis sou ons kon beskryf as simboliese verhale. Ek sou dit sommer fiksie noem. Dit is verhale wat uitgedink is om betekenis oor te dra.

Dan beweeg ons by hoofstuk 12 in die rigting van historiese vertellings met die aartsvaders Abraham, Isak en Jakob. Dit is hoofstukke 12 tot 25 en 28 tot 36.

En in die derde deel van die boek kry ons ’n historiese novelle: ’n storie oor Josef wat eintlik as storievertelling dien, maar wat ook historiese elemente bevat, in hoofstukke 37 tot 50.

En nou wil ek jou wys: As jy die geheelprentjie van Genesis voor jou het, watter rol speel die geslagsregisters daarin?

Genesis 1–11

Storielyn en geslagslyn

Ons neem Genesis 1 tot 11 as voorbeeld. Kyk na die storielyn. Telkens is daar aan die einde van elkeen van die dele van die storielyn ’n laagtepunt.

In die skeppingsverhaal is dit Genesis 3, waar dinge uitloop op die mens se uitdrywing uit die tuin. In die verhaal van Kain en Abel is dit die dood van Abel. In die vloedverhaal is dit God se teleurstelling met die mens. In die verhaal van die toring van Babel is dit die mense wat bedreig voel, en dan God wat afkom en die toring tot niet maak.

Die storielyn eindig dus elke keer, as jy dit sou lees, op ’n baie prominente laagtepunt, waarin jy sal voel: “Wel, nou is hierdie verhaal van God en mense verby.”

Maar kom ons kyk wat gebeur met die geslagsregisters.

Kyk nou net na die geslagsregisters: Genesis 4:1–2, 4:17–26, 5:1–32, 10:1–32 en 11:10–32. Elkeen van hulle wil in Genesis 1 tot 11 invleg dat God met die lewe voortgaan. Hy gee nie op op mense nie. Die verteller het sy verhaal doelbewus so aanmekaar gesit dat jy daardie boodskap ook hoor.

Aan die een kant hoor jy van die teleurstellende optrede van mense en die katastrofale gevolge daarvan. Aan die ander kant hoor jy van geslagsregisters wat sê: “En alles gaan weer aan.”

Ons sou dus in hierdie geslagsregisters eintlik simbole van God se genade kon lees.

Die geboorte van Jesus

Twee geslagsregisters van Jesus

Daar is baie lang verduidelikings oor die twee geslagsregisters van Jesus geskryf. Jy kan dadelik met die eerste lees daarvan sien dat hulle nie dieselfde is nie.

Toe Jesus met sy werk begin het, was Hy omtrent dertig jaar oud. Hy was, soos hulle gemeen het, die seun van Josef. Josef was die seun van Eli … seun van Enos, seun van Set, seun van Adam, die seun van God.

Lukas 3:23, 38

Die geslagsregister van Jesus Christus, die Seun van Dawid, die seun van Abraham … Altesaam was daar dus veertien geslagte van Abraham af tot by Dawid, veertien van Dawid af tot by die Babiloniese ballingskap en veertien van die Babiloniese ballingskap af tot by Christus.

Matteus 1:1, 17

Om dit vinnig op te som: Lukas beklemtoon dat Jesus eintlik van Adam af kom, en Matteus beklemtoon weer Abraham as die oorsprong.

Daaruit kan ’n mens aflei dat Matteus ’n bietjie meer vir die Jode skryf en hulle in gedagte het, terwyl Lukas wyer dink en aan die wyer Christendom dink wanneer hulle hulle geslagsregisters opstel.

Maar tog is dit belangrik dat ’n mens die punt van ooreenstemming tussen die twee geslagsregisters raaksien. Matteus, wat lyk asof hy die kring ’n bietjie kleiner trek, net by Israel, sluit ’n klomp vroue in: Tamar, Ragab, Rut, en die vrou van Urija.

Dit word nog altyd gesien as Matteus se manier om te sê: “Nee, nee, hierdie sirkel van mense wat deur Jesus aangeraak word, is baie groter as net Israel.”

’n Mens sou dus kon sê: Hier aan die begin van die evangelies is die betekenis van die geslagsregister: Jesus is vir almal.

Menswording

God word mens

Twee aanhalings uit die teoloog Richard Rohr se meditasies help ons om die menswording van Jesus beter te verstaan.

Incarnation should be the primary and compelling message of Christianity.

Richard Rohr

Die menswording behoort die eerste en mees oortuigende boodskap van die Christendom te wees.

Die woord inkarnasie beteken dat God in Jesus mens geword het. Rohr se kernpunt is dat die menswording van Jesus vir ons wys wie God is. God is nie ’n verre God wat net van buite af na die wêreld kyk nie. In Jesus word God deel van ons menslike bestaan.

Dit beteken dat God ons lewe van binne af ken. God ken ons vreugde en hartseer, ons swaarkry en ons hoop. Vir Rohr is die menswording daarom nie net ’n deel van die evangelie nie. Dit is die hart van die evangelie: God kom na ons toe en word deel van ons wêreld.

The dualism of the spiritual and so-called secular is precisely what Jesus came to reveal as untrue and incomplete. Jesus came to model for us that these two seemingly different worlds are and always have been one.

Richard Rohr

Die skeiding tussen die geestelike en die sogenaamde sekulêre is juis wat Jesus kom wys het as onwaar en onvolledig. Hy het vir ons kom wys dat hierdie twee oënskynlik verskillende wêrelde een is, en nog altyd een was.

Dit is ook waarom die kerk elke jaar tydens Advent en Kersfees die menswording van Jesus vier. Ons vier nie net dat Jesus lank gelede gebore is nie. Ons vier dat God in Jesus na ons toe gekom het en ons menslike bestaan met ons deel.

Die groot boodskap van die menswording is dus dat God nie ver van ons af bly nie, maar in Jesus naby ons kom. God is deel van ons lewe.

Wysheidstekste

Wysheid in ’n tyd soos hierdie

Die wysheidstekste is ’n belangrike groep tekste in die Bybel: Spreuke, Job en Prediker, en ook Jesus as wysheidsleraar.

Dit is so omvangryk dat dit verdien om op sy eie bespreek te word. Ons gaan dus nie op hierdie punt na die wysheidstekste kyk of Jesus as wysheidsleraar bespreek nie. Dit volg later as ’n selfstandige eenheid.

Profetiese tekste

Forth-telling, nie foretelling nie

Kom ons kyk nou na die profetiese boeke van die Ou Testament.

’n Baie nuttige boek oor die verstaan van Bybeltekste is dié van Steven McKenzie: How to Read the Bible: History, Prophecy, Literature—and Why Modern Readers Need to Know the Difference. McKenzie wys hoe belangrik dit is om te onderskei tussen verskillende soorte Bybeltekste, soos geskiedenis, profesie en ander literêre vorme. Ons kan nie almal op dieselfde manier lees en verstaan nie.

Maar dit gaan nie net oor hoe ons hierdie tekste moet lees nie. Die belangrike vraag is ook: Wat beteken hierdie tekste vir ons geloof vandag?

McKenzie begin met ’n algemene misverstand: dat profete hoofsaaklik mense was wat die toekoms voorspel het. Dit is nie waar nie. Hy verduidelik die verskil met twee Engelse begrippe:

  • Foretelling – om te vertel wat gaan gebeur. Die profeet praat oor die toekoms.
  • Forth-telling – om te vertel wat nou belangrik is. Die profeet praat met mense oor wat in hulle eie tyd gebeur. Hy wys wat verkeerd is en vertel wat God van hulle verwag.

Prophecy in the Bible has more to do with forthtelling the word of God in the present than it does with foretelling the future.

Anoniem, aangehaal deur Steven L. McKenzie, How to Read the Bible, bl. 67

Profesie in die Bybel het meer te doen met die verkondiging van God se woord in die hede as met die voorspelling van die toekoms.

Die profete het soms oor die toekoms gepraat, maar hulle belangrikste taak was om God se boodskap aan die mense van hulle eie tyd oor te dra. Hulle het veral verduidelik wat God vandag vir mense wil sê.

Die profete in hulle tyd

Drie wêreldryke

Dit help om te onthou dat die profete nie almal in dieselfde tyd geleef en opgetree het nie.

Drie groot wêreldryke het ’n belangrike invloed op die geskiedenis van Israel en Juda gehad: eers die Assiriese Ryk, daarna die Babiloniese Ryk en uiteindelik die Persiese Ryk.

1 · Die Assiriese tydperk (ongeveer 740–612 v.C.)

In 722/721 v.C. verower Assirië vir Samaria, die hoofstad van die Noordryk (Israel). Baie inwoners word weggevoer. Profete soos Amos, Hosea, Jesaja en Miga tree in hierdie tyd op.

2 · Die Babiloniese tydperk (612–539 v.C.)

In 597 v.C. voer die Babiloniërs ’n groep inwoners van Juda in ballingskap weg. In 587/586 v.C. word Jerusalem en die tempel verwoes, en nog inwoners word weggevoer. Profete soos Jeremia en Esegiël tree in hierdie tyd op.

3 · Die Persiese tydperk (539–332 v.C.)

In 539 v.C. verower die Perse vir Babilon. In 538 v.C. laat koning Kores die ballinge toe om na Juda terug te keer. In 516/515 v.C. word die herboude tempel in Jerusalem voltooi. Profete soos Haggai, Sagaria en Maleagi tree in die Persiese tydperk op.

Die profete se boodskappe, preke en gedigte het dus nie in ’n lugleegte ontstaan nie. Hulle het gepraat met mense wat onder bepaalde politieke en maatskaplike omstandighede geleef het.

Om die profete te verstaan, moet ons ook iets weet van die wêreld waarin hulle geleef het.

Twee tekste uit Sagaria 8

Ou mense op die pleine, kinders wat speel

Wanneer ons Sagaria 8 lees, moet ons onthou dat die Babiloniese ballingskap reeds verby was. Die Perse het Babilon verower en die Jode toegelaat om na hulle land terug te keer.

Maar die lewe was steeds moeilik. Jerusalem was nog besig om te herstel. Baie mense was moedeloos en het min hoop vir die toekoms gehad. Dit is met hierdie mense wat die profeet Sagaria praat. Hy begin met die bekende woorde waarmee profete die gesag van hulle boodskap beklemtoon: “So sê die Here, die Almagtige.”

So sê die Here die Almagtige: Daar sal weer bejaarde mans en vrouens, ryp in jare, op die pleine in Jerusalem sit, elkeen met ’n kierie in die hand.

Sagaria 8:4

Die pleine in die stad sal vol seuns en dogters wees wat daar speel.

Sagaria 8:5

Dink ’n bietjie aan hierdie prentjie: Ou mense wat rustig op die pleine sit en kinders wat veilig speel. Dit is ’n beeld van ’n stad waar mense weer in vrede en veiligheid kan leef.

Maar daar is iets besonders aan hierdie beeld. Ou mense en kinders is van die kwesbaarste groepe in ’n samelewing. Hulle is dikwels die eerste mense wat swaarkry wanneer daar oorlog, geweld en onsekerheid is. Wanneer selfs die ou mense rustig op die pleine kan sit en die kinders veilig kan speel, beteken dit dat die hele gemeenskap weer in vrede kan leef.

Voorspel Sagaria die toekoms?

Nie in die gewone sin waarin ons aan toekomsvoorspelling dink nie. Hy beskryf ’n wêreld wat nog nie bestaan nie. Die mense met wie hy praat, ken nie so ’n wêreld nie. Hulle ervaar eerder onsekerheid en swaarkry.

Sagaria help hulle om hulle ’n ander toekoms voor te stel. Hy gee hulle ’n nuwe prentjie van hoe die lewe kan lyk: ’n toekoms van vrede, veiligheid en hoop. En omdat hulle God vertrou, kan hulle glo dat so ’n toekoms moontlik is. Dit is nie bloot wensdenkery nie. Die profeet verkondig dat God sy mense nie vergeet het nie en dat hulle daarom met hoop kan leef.

Profetiese verbeelding

Die bekende Ou-Testamentikus Walter Brueggemann gebruik die begrip prophetic imagination, oftewel profetiese verbeelding. Hy het ook ’n bekende boek met die titel The Prophetic Imagination geskryf.

Die gedagte is eenvoudig: Profete help mense om verder as hulle huidige omstandighede te kyk. Hulle wys dat die wêreld nie hoef te bly soos dit nou is nie. Dit is wat Sagaria 8 doen. Hy help mense om ’n ander toekoms raak te sien en roep hulle op om met hoop daarheen te leef.

Dit is waarom hierdie profetiese tekste vandag nog soveel vir ons kan beteken.

Profetiese verbeelding beteken dat ons, omdat ons God vertrou, ’n ander toekoms kan sien en reeds nou anders kan begin leef.

James Kirkpatrick

Kyk, hier is julle God!

Die reeks

Op pad na helderheid

Neem dit saam

Laai die boekie af om op jou foon te lees of om uit te deel. Die drukweergawe pas op A4 en vou in die middel tot ’n A5-boekie.

TOETS